God se Woord in vandag se woorde

Tevrede wees en geld dinge


Ek spot altyd en sê as ek vir mense vra hoeveel is genoeg, dan sê hulle nog. Nee, daar is nie regtig enige iemand wat ek dit al gehoor sê het nie, maar as ’n mens kyk na sommige mense se dryf na rykdom, lyk dit of hulle die heeltyd sê nog en nog en nog, asseblief.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Daar is niks fout met rykdom nie. Baie mense het hard gewerk vir die wat hulle nou het en vir jou sê ek: ”Good for you!”. Geniet die vrug van jou handewerk met oorgawe.

’n Dame wat uit een van ons rykste families in die land kom, het ’n probleem gehad met die klomp geld. Dit het haar woes gepla. Eendag het sy gaan sit en somme maak om te sien wat sy in ’n jaar nodig het. Met die res dien sy nou ’n hele aantal nie-winsgewende organisasies. Dis wys. Dit maak sin.

Tog kan die gejaag na rykdom ’n mens teen die verkeerde boom laat blaf en die blaffery bring ’n mens nêrens nie. Inteendeel, dit maak ’n mens net moeg en het niks te doen met ware vreugde nie.

Beteken dit dat ek die drome om hard te werk, sodat ek ook eendag genoeg kan hê om lekker te lewe, stukkend moet gooi? Vir seker nie! Ons mag die drome hê. Ons kan die drome hê, maar ons moet dit nie ten koste van ander en nog minder ten koste van ons doel hier op aarde droom nie.

Selfs God se Woord waarsku ons hierteen: 5Wees tevrede met wat julle het en moenie heeltyd agter geld aanhardloop asof dit die belangrikste ding in julle lewe is nie.

Die skrywer van Hebreërs ken sy lesers. Hy weet die Jode was erg gesteld op geldelike welvaart. Wel, dis seker vandag nog so, want hoekom gebruik ons nog die spreekwoord oor die gierigheid soos ’n Jood?

Ek dink ons loer te veel na die buurman, die bestuurder bo ons, die baas of selfs ons vriende se goeters. Dan wil ons ook dit hê. Die blink motor. Die groot vakansies en huis met baie helder ligte.

Weereens, daar is nie fout met bogenoemde nie, maar dit moenie ons fokus wees. So baie keer hunker ons na meer, na nog, dat ons nie dit wat ons het, geniet nie. Baie keer sleep die hunker na meer ons oog van die bal af en vang ons alles mis.

Wees ook ’n slaggie tevrede met wat jy het. Sê dankie vir alles. Bely dit as jy te veel hierop gefokus het en vir God en Sy roeping vir jou lewe uit die oog verloor het. As jy bevoorreg is om meer as genoeg te hê, deel gerus uit en maak ’n verskil in ander se lewens. Dit is wat Jesus sou gedoen het.

Jesus moet die heel belangrikste in jou lewe wees. Jaag Sy maniere agterna. Leef soos Hy geleef het en deel uit. Jy sal anders wees.

Teks
Hebreërs 13:1-8

Om oor na te dink
Is jy tevrede?
Wie of wat is die belangrikste in jou lewe?
Waar sal jy effe van rigting moet verander?

Gebed
Vader, U is die belangrikste in my lewe. Help my om só te leef dat my dade dit bevestig. Ek bid dit in Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek