Tjommies deur dik en dun
Soms wanneer dit rof gaan, kom ek en my vrou ooreen dat ons die naweek rustig gaan vat. Geen saam braai met vriende, net rustig by die huis ontspan. Maar as ons ons weer kom kry dan kuier vriende Vrydagaand by ons. Saterdagaand word ons genooi vir ’n braai en Sondag na kerk besluit ons om saam met ’n paar ander families te eet.
Moeg sit ons Sondagaand ons kop op die kussing neer, maar met ’n breë glimlag, want dit was lekker. So lekker om vriende te hê en saam met hulle te kuier. Ek weet my tjommies sal my deur dik en dun dra. As die paw-paw die fan strike, weet ek dat ek na enige van hulle kan gaan, net soos ek enige van hulle sal help in moeilike tye. Of sal ek?
Ek vermoed Job het ook so gedink, maar toe hy in die middel van sy moeilikheid was, was daar geen vriend of familie op die horison te sien nie. Kyk hoe kla hy in Job 19:
“Die Here het my broers van my af weggedryf en my vriende vreemdelinge vir my gemaak.
My familie en vriende het my in die steek gelaat en van my vergeet.
My huismense en my vroulike werkers maak of ek ’n vreemdeling is.
Hulle maak of ek nie daar hoort nie.
Ek roep my werker, maar hy ignoreer my. Ek smeek, maar dit help nie.
My vrou kan my slegte asem nie uitstaan nie. My broers kan my nie verdra nie. Hulle walg hulle vir my.
My beste vriende kan my nie verdra nie. Selfs van die mense wat ek die meeste liefhet, het teen my gedraai.”
My hart kreun as ek dit lees. Kliphard roep ek uit: Mag ek nooit, maar nooit my tjommie so alleen laat nie. Ek wil die kruk wees! Ek wil help!
Met arme Paulus gaan dit nie beter nie. Toe hy in die hof moet verskyn het al sy vriende en kollegas in hul afwesigheid geskitter. 16Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos. Mag die Here hulle nie kwalik neem daaroor nie.
My hart kreun as ek dit lees. Kliphard roep ek uit: Mag ek nooit, maar nooit my tjommie so alleen laat nie. Ek wil die kruk wees! Ek wil help! Ek moet help!
Tog is ek bang dat ek ook sal maak soos Job en Paulus se vriende. As die vuur te warm raak, as dit iets van my gaan kos, as my lewe dalk in gevaar gaan wees, is die vraag wat ek in die hitte van die oomblik gaan doen?
Ek is seker daarvan dat Paulus se vriende rêrig wou help, maar oorrompel is deur hul vrees en die hasepad gekies het. Nou hoe gaan ek en jy dan anders wees?
Michael W. Smith gee vir ons goeie raad in sy liedjie Friends:
And friends are friends forever
If the Lord’s the Lord of them
And a friend will not say never
‘Cause the welcome will not end
Though it’s hard to let you go
In the Father’s hands we know
That a lifetime’s not too long
To live as friends
Ja! Dis net die Here wat ons kan vasbind en help om nie weg te hol nie. Hy sal ons die krag gee om die kruk te wees en te help! Deur dik en dun sal ons saam met die krag van God se Gees mekaar kan bystaan, want dit is hoekom ons hier is.
Mag ons tjommies mekaar altyd dien en daar wees vir mekaar, deur dik en dun.
Teks
2 Tim 4:9-18
Om oor na te dink
Hoe dik is jou bande met jou vriende?
Wat sal jy alles vir hulle doen?
Sal jy alles opgee vir jou vriende in Jesus?
Gebed
Jesus, U is ons vriend. Sonder U sal ons weghardloop as ons vriende in die moeilikheid is. Daarom kan ons ons vriende nie sonder U dien nie. U het vir ons gewys hoe om die lewe as ware vriende te leef. Mag dit waar wees van ons lewens ook. Amen.