God se Woord in vandag se woorde

Tjommies, ietsie op die kole en God


Ons is ses tjommies wat so veel moontlik saam rugby kyk. Ons is nogal knaend en het selfs ’n WhatsApp-groepie, genaamd: Rugby Tjommies. Ons het altyd by een van die groeplede se huis gekyk en die meeste van die kere was daar ietsie op die kole, selfs al is dit ’n oggend-wedstryd. Daar’s mos niks fout met ’n stukkie sagte vleis en wors vir brêkfis nie!

Deesdae kyk ons egter meer in die dorp by ’n restaurant, seker omdat die vrouens moeg geraak het vir die skottelgoed en so. Maar dit pla ons min. Niks keer ons entoesiasme nie. Ons daag mekaar uit op Superbru, sit ’n paar rand op en ons vat die ou met die geldjies, wat aan die einde van die seisoen bo-aan die leer geëindig het, uit vir ete.

Dis lekker om so ’n paar tjommies te hê wat saamspeel en saam kuier. Ons gee vir mekaar om. Stel belang in mekaar se lewe. Help mekaar aan as ons sien die een loop agter, omdat die lewe of die werk te veel druk.

Vir al ons ander vriende vertel ons hiervan en nooi hulle uit om deel te wees. Dis voorwaar ’n goeie kameraadskap en ’n lekker plek om af te skakel en batterye te laai.

Nou wonder ek hoekom ons nie die Evangelie ook so entoesiasties verkondig nie? Hoekom het ons tjommies nie ook ’n WhatsApp-groepie waar ons entoesiasties God se verlossingsboodskap deel nie? Hoekom kom ons nie sommer bymekaar en gesels oor God se werk in ons lewe die week, terwyl daar ietsie op die kole is nie? Hoekom deel ons nie die genot aan al ons ander vriende en nooi hulle saam om te kom deel nie?

Êrens ontbreek iets.

Veral as ek kyk hoe Paulus dit doen: 1Ek is op die oomblik in die tronk omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus bekendmaak. Iets in Paulus brand dat hy net eenvoudig nie kan stilbly nie. Hy kyk nie in sy omstandighede en beperkinge vas nie. Hy sê nie dat hy vasgevang is in ’n tronk en nou nie kommunikasie met die buitewêreld het en daarom is sy hande afgekap en sy stem stil nie.

Hy brand so, dat hy ten spyte van die omstandighede, alle stoppe uittrek om die boodskap daar buite te kry.

En op ’n manier snap ek vir die eerste keer iets. As Paulus nie in die tronk was nie, sou hy steeds briewe geskryf het wat ons vandag op die pad help? Ek weet nie, maar wat ek wel weet, is dat God die negatiewe omstandighede waarin ons is, tot Sy eer gebruik!

Kom ons leer by Paulus. Kom ons kyk nie in die omstandighede om ons vas nie en raak net so opgewonde om die Evangelie daar buite uit te kry. Kom ons stig ook ’n WhatsApp-groep waar ons vir mekaar met God se Woord bemoedig. Kom ons gooi ietsie op die kole en deel God se Woord tussen ons vriende. Daar by die werk en by die huis, laat ons opgewonde praat oor alles wat God in ons lewe doen.

God gebruik krom stokke soos ek en jy om ’n reguit hou te slaan. Moenie skaam wees nie, want dalk red jy net so iemand se lewe!

Teks
Filemon 1:1-3

Om oor na te dink
Vertel jy ander van God?
Vertel jy en jou vriende ander van God?
Waar kan jy God vir die wêreld wys?

Gebed
Vader, ek besef dat ek nie altyd vir die wêreld wys wie U is nie. Soms is ek skaam. Soms weet ek nie hoe nie. Soms probeer ek eenvoudig net nie hard genoeg nie. Leer my en help my asseblief om dit te doen. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek