God se Woord in vandag se woorde

Toe ‘n goeie pak slae nog in was – Romeine 7:1-6


goeie pakslaeKliek hier om die teks te lees: Romeine 7:1-6

Op skool was ek redelik aan die ondeunde kant. Inteendeel, as daar ’n beker moes wees vir die soetste kind in die klas, sou ek vir seker nie die kortlys gehaal het nie. Partykeer is jy stout en partykeer doen jy net plain stupid goeters. So het ek en ’n paar pêlle een aand tydens ’n debat aand besluit om een van die wiele van ’n onderwyser se kar af te blaas. Die volgende dag het iemand op my ge-split en ek moes aanlê vir ses van die bestes. Dit was in die dae toe dit nog reg was om straf op jou boude te voel.

Dit is presies wat eintlik met ons moet gebeur as ons buite die wet van God speel. Die wet wys vir ons wat is binne die wil van God en wat is verkeerd. As ’n mens aanhou om buite die lyne van die wet te loop, is daar ’n bepaalde straf en gewoonlik is die hel die voorland.

Jesus het dit egter kom verander. Hy het die hele appelkar kom omgooi. Hy het in ons plek die sonde kom dra. Die straf van die sonde, die pak slae van die sonde, die ses van die bestes, het Hy voor aangelê.

Dit is amper asof een van my vriende sou opstaan nadat my naam oor die interkom geroep word sê: “Nee, wag. Sit jy Gertjie. Ek sal namens jou die pak gaan haal”. Nie dat dit ooit sou gebeur het nie! Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het reeds names ons die pak gevat.

Of dit is asof iemand vir Oscar sou sê: Gaan jy aan met jou lewe. Gaan hardloop jy om die atletiekbane van die wêreld. Ek sal namens jou in die hofsale gaan staan en wat ook al die straf, ek sal dit dra. Sjoe, nie ek, jy of Oscar sal dit kan glo nie.

Dit is presies wat Jesus gedoen het. Hy het die straf van die oortreding van die wet van God vir ons kom dra. Hy het in die hemelse hofsaal gestaan en Hy is namens ons in ons plek aangekla en natuurlik skuldig bevind. Hoe dan nou anders, want vir elke sonde, vir elke oortreding is die straf reeds op die kaarte en dit is die dood. En hiervoor het Jesus aan die kruis gesterf.

Jesus het die wet van God anders kom maak. Nee, Hy het nie ’n streep daardeur kom trek sodat ons kan doen wat ons wil nie. Nee, Hy het die gevolge vir wanneer ons die wet oortree, kom uitvee deur dit op Homself te neem.

Ek het baie planne op skool gemaak om die hou wat gaan kom sagter te maak. Ek het ’n paar onderbroeke oor mekaar aangetrek. Ek het selfs ’n ou stuk tube probeer, maar niks was regtig suksesvol nie en hoe groter ek geword het, hoe meer het ek my pak soos ’n man gevat, want ek het geweet ek verdien dit.

Daarom is ek soveel te meer dankbaar vir Jesus, want ek weet ek sal nie die straf van die sonde soos ’n man kan vat nie!

Om oor na te dink

Glo jy dat Jesus jou sonde dra?

Glo jy dat Hy jou pak slae gevat het?

Hoe lyk jou lewe nou?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek