Toets van die geloof
By die fabriek het ons produkte van polimeer gemaak. Eenvoudig gestel, is dit resin, silikasand en kalsiumkarbonaat wat gemeng word om ’n verskriklik harde produk te vorm. Elke week het ons ’n blokkie na die Universiteit van Stellenbosch gestuur om die druksterkte te toets.
Die wit waks word letterlik uit die blokke gedruk en die mate word geneem as die blokkie uiteindelik in duisende stukkies breek. As dit nie aan ons standaarde voldoen het nie, het ons teruggegaan na die formule. Daar is aanpassings gemaak, totdat ons uiteindelik by die regte druksterkte uitgekom het.
Die manier hoe ons mense druk kan hanteer, is ook ’n toets. Dis in tye van druk wanneer ons terugval na ons default en doen soos ons geprogrammeer is. Dan dink ons nie wat ons moet doen of sê nie. Dan word daar nie doekies omgedraai nie en kom dit net soos hy van sy ma af kom.
My dogter gaan in die bos in saam met ’n klompie vriende. Hulle gaan klim teen watervalle uit. Die natuur is ongerep en hulle verkyk hulle aan die mooiheid van die skepping.
Toe hulle terugkom by die kar, kry ek ’n oproep en ’n fyn stemmetjie: “Pappa, ek het die kar se sleutel verloor …”
Nou is al die doekies van my dingesmeter gestroop. Jy sien, dadelik dink ek aan hoe ons die spaarsleutel, 700 kilometer van hier, daar gaan kry. Hoe gaan ons die kar oopkry om tot hier te sleep? Hoe vêr is die slotmaker? Wie gaan die kar insleep?
Al hierdie dinge is ’n krisis en bepaal nou my reaksie. Wat nou by my mond uitkom, is ’n teken van wie ek is. Ek sê mos altyd dat mense nie besef dat die woorde wat uit hulle mond kom, ’n prentjie wys van hoe hulle hart lyk nie.
Krisisse in ons lewe toets of ons geloof sterk genoeg is. Dit kom trek die prentjie van ons hart. Uitdagings op ons pad kom bestudeer die prentjie en vra of ons die toets maak. Is jou geloof sterk genoeg? Wanneer al die doekies afgedraai is, staan daar ’n geloof wat deur dik en dun sal bly glo, maak nie saak hoe groot die branders en winde van die lewe is nie?
So eenvoudig soos dit: 12Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly.
Baie keer wil ons dit nie hoor nie. Baie keer as dit so swaar gaan, vra ons waar God is en as ons hoor Hy gebruik dit, staan ons gou boos met ons armpies in die sye.
Maar hoor mooi hier. Die vers sê nie dat God die outeur is van die swaar waardeur jy moet gaan nie. Hy gebruik dit net. Terwyl jy nou daar in tamatiestraat sit, kyk Hy hoe die prentjie van jou geloof lyk. Daar waar daar nie meer doekies omgedraai word nie.
Maak seker dat jou geloof in God diep gesement is, sodat dit stewig sal bly staan te midde van die woeste winde en golwe van lewe. Hiervoor het ons ’n hoop wysheid nodig. Laat ons dit dan bid van die Een in wie ons geloof hang.
Teks
Jakobus 1:12
Om oor na te dink
Hoe lyk jou hart se prentjie in moeilike tye?
Hoe dik is jou geloof?
Waar moet jy nog meer in God se hande oorlaat?
Gebed
Vader, ek is nie goed onder druk nie. Die prentjie wat gewys word, is nie altyd so mooi nie. Ek vermoed dis omdat my geloof nie stewig genoeg in U gegrond is nie. Help my om my geloof in U te versterk, sodat dit die winde en storms van die lewe kan deurstaan. In Jesus se Naam. Amen.