Tot-hier-toe-en-niks-verder bordjie
’n Mens moet gewoonlik eers oor die vyftig jare op die aarde wees, voordat ’n mens stadig begin besef dat daar wel eendag ’n einde aan alles sal kom. Wanneer ’n mens se aardse liggaam nie meer werk soos dit gewerk het toe jy jonger was nie, besef ’n mens gou dat die lewe nie vir altyd hou nie.
As jongmens dink ’n mens nie daaraan nie. Soos die Engelsman sê: “It doesn’t even cross my mind.” Totdat iets gebeur en ewe skielik word jou brein gekonfronteer met ’n tot-hier-toe-en-niks-verder bordjie.
My pa is op 57 skielik oorlede. Hy het die Saterdag nog ’n paartjie getrou, maar kon nie Sondag die kansel bestyg nie. ’n Vriend moes vir hom instaan. Die Maandag staan ek as veertienjarige langs sy bed. Die laaste keer wat ek hom sien asemhaal het.
’n Mens is eintlik dan nog te jonk om te verstaan wat aangaan. Gelukkig verstaan ’n mens nie wat die impak daarvan op die nabye toekoms vir jou ma en die res van die kinders is nie. Maar daar is ek die dag gekonfronteer met die feit dat almal eendag by die tot-hier-toe-en-niks-verder bordjie gaan arriveer.
Wie sou kon raai dat ek net drie maande later by my broer se graf moes staan! ’n Dag voor sy een-en-twintigste verjaarsdag. Sy bordjie het te vinnig opgedaag …
24Die Skrif sê nie verniet nie: “Elke mens is slegs soos ’n grashalmpie. Dit is met mense nie anders as met ’n blom in die veld nie. Die grashalmpie verdroog maklik en die blom se blaartjies val na ’n rukkie nutteloos op die grond. Dit is so tydelik.
Vir seker is die lewe tydelik.
Daar is ’n paar feite van die lewe wat die slim mense niks aan kan doen nie. Die een is dat almal erens een of ander tyd gaan opdaag by die tot-hier-toe-en-niks-verder bordjie. Niemand weet wanneer daardie bordjie gaan opdaag nie.
Ons is maar net ’n grashalmpie. Ons is maar net soos ’n blom. Die grassies staan mooi groen op die veld en hier in die weskus na goeie reëns is die dorre vlaktes oortrek van pragtige blomme. Totdat die son alles verdor het en net die droë vlaktes oorbly.
Nou wil ’n mens amper verval in ’n donkere gat, want sê nou maar net my bordjie daag môre op. Dis darem nie lekker om met so ’n vooruitsig te lewe nie, of hoe?
Of ons kan vrede maak daarmee en weet een of ander tyd moet ons totsiens sê en gaan ons na ’n veel beter plek. En in die vrede maak kan ek besluit hoe ek die tyd, wat ons net geleen word hier op aarde, gaan leef.
Ons elkeen het gawes gekry om hier op die aarde te ontwikkel en dan in te span om ’n verskil te maak in ander se lewens. Dis ons elkeen se roeping. Daarom moet ons, voordat ons by die bordjie uitkom, alles insit om nêrens ’n kans te mis om ’n verskil in ander mense se lewens te maak nie.
Laat ons nie spoed verloor nie. Nee, laat ons liewers spoed optel en elke oomblik aangryp om ’n verskil te maak, sodat ons op volle vaart is wanneer ons by ons tot-hier-toe-en-niks-verder bordjie aankom.
Teks
1 Petrus 1:22-25
Om oor na te dink
Wat maak die bordjie aan jou gemoed?
Waar kan jy spoed optel?
Waar kan jy ’n verskil maak?
Gebed
Vader, soms beïnvloed die bordjie die weer oor my kop, maar laat ek eerder spoed optel en uitsien om by die bord uit te kom, op volle vaart. Amen.