God se Woord in vandag se woorde

Trane oor verdeeldheid


1 Korintiërs 1:10-17

My vrou se ouma se geliefde uitdrukking was: die een mens is nie die een mens nie. Sy het dit veral gesê wanneer mense optree op ’n manier wat sy glad nie verstaan nie. Baie keer doen mense dinge wat ons glad nie verstaan nie en vir ons aan die simpel kant lyk. Wanneer dit egter nader aan ons kom en ons begin raak, het ons gou ’n eiertjie te lê, sê ons ons sê en kort voor lank is daar ’n stryery aan die gang. En dit is net hier waar die duiwel sy vinger probeer indruk en kort voor lank is die vrede wat die Here bring uit by die deur.

Hoe vinnig gebeur dit nie daar by die Here se dinge en veral in die kerk nie? Soos ek altyd sê: die duiwel gaan ons nie kom versoek met groot sondes van doodmaak en steel en so nie. Nee, hy kom met sulke slinkse planne van verskille tussen mekaar en op die ou end skeur kerke, geloofsgemeenskappe, gesinne en vriende uitmekaar. Pasop vir hom. Hy ken al die truuks in die boek en weet baie goed watter ene gaan die beste by jou werk! Daarom die waarskuwing van Paulus: 10Kinders van die Here, werk asseblief tog saam. Namens ons Here Jesus Christus vra ek julle dit baie mooi, maar baie ernstig. Daar moet nie heeltyd ’n stryery onder julle wees nie. Julle moet met mekaar oor die weg kom.

My suster het my vertel dat sy my pa een dag om die draai gesien staan en huil het. Sy kop was onderstebo en sy skouers het geruk soos hy huil. Op ’n latere stadium het sy uitgevind waaroor hy so gehuil het. Dit was oor die drie susterskerke (NG, Hervormd en Gereformeerd) wat net nie om dieselfde tafel kon sit nie. En waaroor gaan dit? Oor dinge soos liedere wat gesing en nie gesing mag word nie en so meer.

Dit steek my dwars in die krop dat mense baklei oor teologiese kwessies. Ure der ure word bestee om een of ander kwessie te verdedig en in die proses word die persone wat aan die ander kant staan, se verstaan in die grond getrap. My hart gee so ’n kreun as ek dink wat die mense besig is om te doen terwyl die wêreld daar buite verlore gaan. Hoekom spandeer hulle nie eerder hulle energie en gaan bring God se boodskap aan die ongereddes daar buite nie?

Ek wonder hoe voel God daaroor?

Ons stry so baie oor die dinge van God dat ons die God van die dinge uit die oog verloor. En dit is presies wat met die baba Christene in Korinte gebeur het. Hulle het begin stry wie die naaste aan die waarheid is, Paulus, Apollos of Petrus? En, sê Paulus, dit is nie waaroor dit gaan nie. Boys, hoor mooi. Dit gaan oor God. Dit gaan oor Christus wat aan die kruis gesterf het. Dit gaan nie oor ons en ons leerstellings en manier van glo nie: 17Christus het my nie gestuur om mense vir myself bymekaar te maak deur te doop nie. Nee, Hy het my gestuur om vir julle die goeie boodskap oor Hom te kom vertel.

Ons moet dié boodskap diep ter harte neem. Ons mis so maklik die teiken. So maklik gaan dit oor ek en my manier van glo. Los dit eerder en gebruik daardie energie om die verlossingsboodskap van Jesus aan die mense daar buite te verkondig.

Laastens ’n stukkie praktiese raad: 17… Dit moet ek nie doen met vreeslik geleerde en moeilike taal om mense te beïndruk nie. Nie taal nie, maar die werklikheid van die kruisgebeurtenis van Jesus moet mense beïndruk. Daar lê die werklike krag van die boodskap oor Jesus. En dit mag nooit agter slim argumente of geleerde taal weggesteek word nie.

Nou gaan maak dan so!

Om oor na te dink
Stry jy soms oor onnodige dinge?
Waar moet jy eerder net die kruisboodskap gaan uitdra?
Werk jy saam of veroorsaak jy trane?

Gebed

Here, ek weet dat ons soms die verkeerde boodskap uitdra. Soms is dit my manier van glo wat meer belangrik raak as die kruisboodskap. Help my Here, om U verlossende kruisboodskap in die wêreld uit te dra. Help my om ruimte te hê vir mense wat op ’n ander manier as ek glo. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek