God se Woord in vandag se woorde

Trekkrag uit die verhouding


Ons help gedurig getroude paartjies wat besluit het die huwelik is nou eers genoeg. Aan die begin het hulle getrou, want die andersheid van die ander een het hulle na mekaar getrek. Nou sê hulle dat hulle te veel verskil.

Hierdie is die stootkrag, wat mense uit die huwelik uit stoot. Daar is ook ander redes wat mense uit die huwelik stoot, sommige gegrond, sommige nie. Geen kommunikasie; fisiese, geestelike of finansiële mishandeling; verslawing; rolle en nog baie meer, is kragte wat mense uit huwelike stoot.

Dan is daar ook kragte wat mense uit hulle huwelik uit trek. Dalk kom ’n jonger, mooier persoon aangestap, wat soveel meer as die eggenoot bied. Die trekkrag is so sterk, dat ’n mens blind raak vir die pyn wat dit aan die geliefdes veroorsaak.

Daar is nie wenners in ’n skeisaak nie. Daarom dat Jesus uitdruklik gesê het: “Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.” (Markus 10:9)

Wanneer ons vir God kies, is dit soos om in ’n huwelik verbind te word. Dis ’n verbintenis waar God vir ons kom sê dat Hy al die pad vir ons ’n God sal wees en ons sê dat ons Sy kinders sal wees en soos Sy kinders sal leef.

In hierdie “huweliksverhouding” met God, is daar nooit kragte van God se kant wat ons uit hierdie verhouding wil stoot nie. Daar is wel trekkragte wat ons uit hierdie verhouding wil kom trek.

Die sterkste is seker die krag van die wêreld. Wanneer ons toelaat dat die wêreldse dinge ons nader trek, wanneer ons toelaat dat die wêreldse dinge ons wegtrek van God en ons soos die wêreld begin doen, is ons eintlik egbrekers. Soos een wat die ander in die huwelik verneuk.

Dis dalk effe erg gestel, maar dis nie ek wat so sê nie. Jakobus sê so in hoofstuk 4: 4Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?

Dit gebeur sonder dat ons dit eintlik besef. En ja, dis moeilik om in die wêreld te leef en nie deur die wêreldse dinge aangetrek te word nie. Stadig katrol die dinge van die wêreld ons in en voor ons ons kom kry, het dit ons uit ons verhouding met God getrek en sit ons alleen in die wêreld.

Wanneer ek sulke nuus hoor, raak ek effe mismoedig, want hoe moet ’n mens nou maak? Dan wil ek sommer al die penne optrek en in ’n woestyn gaan woon waar daar nie kragte is om my weg te trek uit my verhouding met God nie.

Maar dis nie nodig nie. Ons is eintlik geroep om binne die verhouding met God hier in die wêreld te leef. Ons het dan ’n opdrag om Sy lig te wees. Die belangrikste is om net te besef dat daar kragte is wat ons uit die verhouding wil trek. Ons moet ons daarvoor voorberei.

Ons moet seker maak dat die wêreld nie ons identiteit bepaal nie. Ons moet seker maak dat die wêreld nie bepaal hoe ons optree nie. Nee, ons moet binne die verhouding met God groei, sodat ons bestand is teen die kragte van die wêreld en daar leef as geliefde eggenote van God.

Teks
Jakobus 4:1-6

Om oor na te dink
Watter kragte van die wêreld is in jou lewe?
Hoe kan jy keer dat die kragte jou nie wegtrek van God af nie?
Wanneer laas het jy bely omdat jy toegegee het aan die kragte van die wêreld?

Gebed
Vader, ek weet dat die wêreld torring om my weg te trek van U af. Heilige Gees, help my asseblief sodat ek kan sterk staan teen elke versoeking. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek