God se Woord in vandag se woorde

Trots op jou!


(As jy nog nie die jaarlikse Kruispad-navorsing ingevul het nie (en aanlyn kan gaan), volg asb die volgende skakel om dit in te vul: https://kruispad.247.org.za/navorsing-2019/ Ons waardeer dit opreg.)

Ek kry die volgende e-pos van Dawid (skuilnaam):

In 2014 het ons finansieel baie swaar getrek. Ek kon nie ’n ruiker of kaartjie vir my vrou gee vir ons 45ste huweliksherdenking nie!

In die tuin onder ’n perskeboom het ek ’n herfsgeel blaar gekry en daarop ’n boodskap geskryf: “Ek is lief vir jou!” met die dag se datum daarby.

Ek het iets in haar oë gesien wat ek nog nooit met die gee van enige ruiker blomme gesien het nie!

Sy het vandag nog die blaar as ’n boekmerk in haar Bybel!

Die storietjie van Dawid beteken vir my so baie. ’n Klein gebaar, maar die impak daarvan só groot.

Met die klein dingetjies wat ’n mens doen, kan ons ’n groot impak maak.

Ek weet nie hoekom ons dink dat as ons geroep word om God se werk te doen, ons alles moet verkoop en met ’n stokou kombi in Afrika op sukkel om daar onder ’n groot boom te gaan sendingwerk doen nie.

Ja, daar is mense vir wie God roep om alle wortels uit te trek en elders te gaan sendingwerk doen. Maar vir die meeste van ons roep Hy om daar waar ons woon, werk en speel ’n verskil te maak. In die klein dingetjies.

’n Glimlag hier. ’n Helpende hand daar. Vir iemand wat siek is kos te neem. Dalk ’n brood, konfyt of kaas ongesiens vir iemand by die voordeur neer te sit. Of dalk tyd. Tyd vir jou eggenoot, kind of familielid. Vir die een wat so alleen sit en wag vir iemand om te kom kuier.

Hierdeur woel jy in God se nuwe wêreld en kry Sy Naam eer.

15Doen jou bes om jou werk so te doen dat God trots sal voel op jou. Dan sal jy nie skaam hoef te voel omdat jy die boodskap van die Here so vir ander vertel dat hulle kan leer wat die waarheid regtig is nie.

Ons doen en late maak dit vir ons maklik om God se Woord in die wêreld uit te kry óf nie. Dit help nie ons loop oor mense by die werk en dan wil ons hulle van God se liefde vertel nie. Dit werk nie so nie. Mense sal ons eenvoudig net nie glo nie.

Mense wil Jesus se liefde in ons lewens raaksien. Ons moet eers vir hulle wys, met ons dade. Hulle moet Jesus se liefde aan hulle lywe ervaar voordat hulle na ons woorde gaan luister.

Daarom die uitdaging vandag. Leef so dat God trots sal wees op wat ookal jy doen. Daar by die werk waar dis soms druk. Daar by die huis waar dit ook nie aldag so lekker gaan nie. Daar by die vriende waar die grense gereeld getoets word.

Mag ander na God smag omdat jy Sy dinge doen in die groot, maar ook die klein dingetjies.

Teks
2 Tim 2:14-18

Om oor na te dink
Hoe lyk jou dade?
Wil ander ook vir Jesus ken?
Is God trots op jou?

Gebed
Vader, ek weet dat ek nog baie meer kan doen, maar ai, ek sukkel. Ek vra U Gees om my oë oop te maak sodat ek kan sien waar U deur my wil werk.  Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek