God se Woord in vandag se woorde

Tussen grys, swart en wit – Romeine 13:11-14


tussen grysKliek hier om die teks te lees: Romeine 13:11-14

Daar is dade wat aan die lig behoort en dade wat aan die duisternis behoort. Die probleem is dat die verskillende dade nou al so in mekaar gegroei het dat ons nie meer weet wat is deel van die duisternis en wat is deel van die lig nie. Onsself het ’n ruimte geskep waar dit grys is en nou gaan alles deur as reg.

As ons so vasgenael sit voor die TV, hoop ons Oscar kom los? Reg of verkeerd? Waar word die lyn getrek?

Paulus gryp die bul by die horings en spel dit sommer in geen onduidelike woorde uit. Hy noem ’n graaf ’n graaf: 13Ons moet dadelik ophou met al ons sondes wat tot die donker hoort en begin leef soos mense van die dag wat God se wapens van die lig aanhet. Ons moet net doen wat God sê. Skandelike dinge soos uitspattighede en dronkpartytjies, seksuele losbandigheid en goddeloosheid, ’n bakleiery en jaloesie is nou heeltemal ontoelaatbaar.

Dit klink darem erg en dadelik plaas ons die dade in die donkerte en verontskuldig onsself onmiddellik daarvan. Ek doen darem nie dit nie. Dit is te erg!

Regtig? Maar as ek mooi gaan kyk, is ek nie êrens op ’n manier besig om tog maar daaraan deel te neem nie? Kom ons verwoord dit in ons tyd:

As jy en jou vriende braai, wanneer stop jy om nog een klein “brannas” te gooi? Of hier by ons agter die wyn gordyn. As ek wegry van ’n geselligheid saam met my vriende, sal ek die toets van die pypie deurstaan?

Ja, jy het dalk nooit by ’n ander vrou geslaap nie, maar waaraan dink jy as jy na ’n ander vrou kyk? Wat laai jy af as jy op die net is? Watter grappies en stories laat jy toe om by jou ore in te gaan?

Goddeloosheid is daar waar God nie is nie. Daar waar jy nie plek maak vir God om saam te kom nie. Baie maal dan sê ons: Here, staan U nou eers ’n bietjie opsy. Ek gaan dit op my manier doen. Dit doen ons elke dag!

Bakleiery. Moet ek iets hieroor sê?

Hier is wel van die goed wat op ’n manier in my lewe kom nesskop het. Hoe maak ’n mens nou? Die eerste stap is om grys areas te erken in jou lewe. ’n Mens kan nie begin werk aan ’n probleem of aan iets wat verkeerd is as jy nie besef dat dit verkeerd is nie.

Identifiseer dinge wat jy doen wat nie deel is van die lig nie, wat in die grys area lê. Plaas elkeen van hulle voor God. So maak jy dit bekend en daardeur bring jy dit uit die donkerte of grys area na die lig. Nou kan jy en God daarmee begin werk.

Daarom, 14staan dadelik op en trek die krag van die Here Jesus Christus as julle nuwe klere aan. Moet nooit enige plek vir sonde in julle lewens gee nie. Moet nooit swig voor versoekings nie.

Daar is krag beskikbaar by God. Dit is wat jy nodig het om hierdie verkeerde dinge wat in jou lewe aan die gang is, te oorkom. Op jou eie gaan jy dit nie regkry nie. Dit verseker ek jou. Maar met die krag van God kan jy nou ’n standmaak. Ten minste kan jy nou opstaan en weet dat daar ’n paar dinge is wat jou pla, wat vir God ook pla en dat jy iets daaraan sal moet doen. Deur God se krag aan te trek het jy al ’n end op die regte pad begin stap.

Om oor na te dink

Wat pla daar in jou?

Watter skuiwe moet jy maak?

Hoe moet jy by God se krag vir jou uitkom?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek