Tussen lewe en dood – Romeine 12:9-21
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 12:9-21
Paulus is op ’n roll. Hy rammel die een voorstel na die ander af van hoe ons as kinders van God moet leef. Elke voorstel is eintlik ’n preek op sy eie. Ja, ons moet eintlik by elkeen eers vir ’n tydjie stilstaan en presies begryp wat die impak daarvan is. Vat nou bv. hierdie opdrag: 11Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe.
Dit laat my dink aan die tyd toe ek my twee jaar verpligte diensplig gedoen het. Dit was ’n moeilike tyd, maar tog ’n tyd wat ek baie geniet het en op ’n manier van ’n seun na ’n man verander het. Ons was in diens van die land en moes presies doen wat hulle gesê het ons moes doen.
Ek sal nooit vergeet hoe ek saam met honderde ander seuns in Wingfield op die trein geklim het nie. My ma het nog so gestaan en waai, toe begin die korporaals al op ons skree. Daardie eerste 3 maande was ons ge-grind. Ja, dis die regte woord, want ons is geslyp en skerpgemaak dat jy net vonke sien spat. Hulle het ons presies geleer wat van ons verwag word. Ons moes om elke bossie hardloop, maak nie saak hoe ver nie, maak nie saak hoeveel keer nie. Ons moes elke stukkie van ons geweer ken en presies weet wat pas waar. Ons moes so skerp wees dat hulle ons enige tyd van die nag kon wakker maak en tussen die geskree ons geweer binne sekondes inmekaar sit, ’n koeël in die loop stoot wat net wag vir die slagpennetjie om af te gaan. As jy effens verslap, word jy om en om en om die kamp gejaag, want dit kan jou lewe kos. Daar’s net ’n sekonde tussen lewe en dood.
Baie min besef dat daar elke oomblik ’n oorlog aan die gang is. ’n Oorlog tussen lewe en dood. ’n Geestelike oorlog waar ons moet veg teen die dood.
As ek so om my kyk, sien ek baie Christene wat so bietjie hiervan vergeet het – mense wat ’n lewe leef sonder om die werklikheid van kind van God wees uit te leef. Wanneer hulle dan in die moeilikheid is, kan hulle nie verstaan wat aangaan nie. Hoekom sit ek nou hier? Wat het dan gebeur? Waar kon ek in die gat getrap het?
Dalk is dit as gevolg van slap diens aan die Here?
Dit is so belangrik dat ons sal besef dat ons te alle tye gewapen moet wees in die stryd teen die bose. Die duiwel sal enige iets probeer om ons weg te rokkel van God. Ons moet presies weet wat die stryd is. Ons moet daarvoor opgelei en toegerus wees. Ons moet gereed wees en om elke hoek en draai ’n aanval verwag en dienooreenkomstig optree en veg.
Ons kan dit egter nie alleen regkry nie. Daarom het God vir ons die Heilige Gees gegee. By die Gees kry ons krag om voluit vir God te lewe. Die Heilige Gees help ons om gereed te wees vir aanvalle van die Bose. Die Heilige Gees gee ons wysheid en krag om op te staan en te veg.
In die weermag het ons baie ure en hope energie spandeer om veggereed te wees. Daar was baie dae van min slaap, lang ure in die klaskamer sit, baie rondhardloop en meer as genoeg praktiese ervarings. Dit was om ons skerp te maak vir die taak op hande. So moet dit ook wees in ons lewe.
Maak tyd in jou dag om stil te word en na die Here te luister. Maak jou lewe oop vir die werk van Heilige Gees. Gee elke vertrek van jou lewe, ook daai ding waarmee jy so sukkel, oor aan die Heilige Gees. Bestudeer God se Woord, sodat dit deel word van jou en jou ook verander. Moenie een sekonde verslap nie. Dien God met oorgawe in alles wat jy doen, daar waar jy woon, werk en speel.
Om oor na te dink
Waar het jy verslap?
Waar moet jy jouself opskerp?
Waar moet jy die Heilige Gees toelaat om oor te vat?