Tweeliterbottel in rugsak
Sommige mense kan mos eet wat hulle wil en dan bly hulle so maer soos my vinger. Ek aan die ander kant, kan net vir kos kyk, dan voel ek al hoe my middelrif uitrys. Dis ’n alewige gestoei om ontslae te raak van die ekstra vetjies wat so ongenooid, orals hul intrek in my lyf wil kom neem.
Ek tel oorgewig in twee-liter Coke bottels. Ek sien ’n prentjie van ’n rugsak wat vol tweeliterbottels is, wat ek ekstra moet ronddra, of is dit nou sleep? Wanneer ek dan onder selfdwang, elke dag vir ten minste ’n uur die fiets trap, soveel so dat daar ’n dam sweet onder lê en ek die yskas soos gif vermy, sien ek hoe die sak bottel vir bottel ligter raak.
Dan begin ’n mens erg goed voel. Die klere rek nie meer so oor al die plekke nie. Jy raak nie gou moeg nie. Jou knieë en ander parte kreun en steun nie meer met oorgawe nie. En dit is asof jy ’n wip in jou stap het.
Dit bly egter ’n uitdaging om die gewig laag te hou. As ek nie elke dag myself dophou nie, laai ek gou weer ’n bottel in my rugsak en voor ek my kom kry, sleep ek weer aan die ekstra gewig rond en sukkel ek om te stap, wat nog te sê van draf!
So kan ons ook baie ekstra verkeerde gewig in ons geestelike lewe bymekaarmaak, wat veroorsaak dat ons die wedloop van die lewe sukkel-sukkel gaan aflê. Die skrywer van Hebreërs stel dit so eenvoudig: 1Die lewe is soos ’n wedloop… Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons hinder om die wedloop van die lewe behoorlik te hardloop. Dit is veral die sonde wat ons gedurig wil pootjie. Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het.
Wanneer ek met ’n rugsak met ’n klomp ekstra tweeliterbottels van die oggend tot die aand moet stap, word ek gouer moeg en kan ek nie doen wat ek eintlik moes doen nie. My parte kry swaar en gaan heel waarskynlik gouer verweer.
Soos my groot vriend. Hy is letterlik en figuurlik my groot vriend, wat die skaal baie vêr oor die 100 druk. Sy knieë is nie lekker nie en die res van sy parte protesteer die heeltyd oor die ekstra gewig. Hy kan nie meer fris en vars deur die dag karjakker soos in ons jong dae nie.
Met ons geestelike lewe gaan dit net so. Ons geestelike lewe is ’n wedloop waarmee ons besig is en wat ons suksesvol moet voltooi. Sonde is tweeliterbottels wat ons in ’n rugsak saam met ons sleep. Dit maak ons stadig. Dit breek ons spoed. Ons raak gou moeg en moet kort-kort gaan staan om asem te soek. En ek vermoed dit kan ons selfs keer om by die wenstreep uit te kom.
Kom ons maak erns met die dinge wat ons spoed breek. Kom ons oefen hard en begin die sonde afskud. Kom ons raak stil en laat toe dat die Heilige Gees ons wys waar die foute is, sodat ons dit een vir een uit die rugsak kan aflaai. Dan moet ons keer dat dit nie sommer weer ongemerk by die rugsak inklim nie. Sodat ons ook die geestelike wedloop suksesvol sal hardloop.
Teks
Hebreërs 12:1-3
Om oor na te dink
Hoe vorder jou wedloop?
Wat breek jou spoed?
Watter sondes moet jy van ontslae raak?
Gebed
Here, ek sukkel om ontslae te raak van die sonde. Ek sukkel om te keer dat my rugsak swaarder raak. Help my om dit nie weer te doen nie. Amen.