God se Woord in vandag se woorde

Tyd vir God – Romeine 16:17-23


tyd vir godKliek hier om die teks te lees: Romeine 16:17-23

In die doodsnikke van die brief aan die Christene in Rome vra Paulus weer dat die gelowiges moet aanhou om te stry teen die aanvalle van die duiwel. ’n Mens moenie dink dat dit nou makliker sal gaan omdat jy begin erns maak met die dinge van die Here nie. Inteendeel! Sodra jy vir die Here iets doen, is jy besig om die duiwel op sy terrein seer te maak. Die duiwel sal nou alles doen om jou spoed te breek. Hy is baie slinks in sy aanvalle.

Kry jy dalk swaar in jou besigheid? Sukkel jy en jou eggenoot om glad te lewe, m.a.w. julle hak oor die kleinste dingetjies en ou koeie loop sommer so vanself uit die sloot? Is jou glimlag sommer net weg? Dis hy. Dis die duiwel wat wil keer dat jy op sy terrein woel. ’n Mens moet partymaal net so ’n bietjie wegstaan. Gaan sit sommer daar op die lewe se paviljoen en dan kyk jy so van bo af hoe lyk dit en waarheen is jy op pad. Wanneer jy God se game planvir jou lewe sien en ook hoe die duiwel en sy trawante daarteen probeer wal gooi, sal jy besef hoekom daar hakplekke is.

Onthou dat Satan oorwin is, maar nog nie heeltemal van die tafel af gevee is nie. Dit gaan Jesus nog kom doen: 20Ek het goeie nuus vir julle: ons wonderlike God wat aan ons almal sy vrede gee, gaan Satan binnekort onder julle voete fyn en flenters trap. Tot op daardie dag sal ons Here Jesus Christus met sy goedheid by julle wees.

Daarom hamer Paulus hier tot op die einde en vertel ons presies wat ons moet doen: 19… Wees verstandig wanneer dit by goeie dade kom. Maar wees dom wanneer dit by sondes kom. Moenie vir die sonde ’n vastrapplek in julle lewens gee nie. En ons sukkel daarmee, want sien, ons weet nie dit is sonde nie. Die duiwel kom bied dit op so ’n manier aan dat jy nie besef dis verkeerd is nie. Pasop vir die sondes wat sommer so maklik hulle intrek in jou lewe neem! Wees kwaad vir die sondes! Wees bang daarvoor! Hardloop weg daarvoor!

Ons het die afgelope tyd in Romeine telkemale gaan stilsit, onsself ondersoek en die sondes uitgehaal en net daar gelos. Maar as ons mooi gaan kyk, sien ons dat daar weer ’n paar opgeslaan het. Hierdie reiniging is ’n voortdurende proses. Dit hou nie op nie. Want as die een manier nie werk nie, probeer die duiwel uit ’n ander hoek.

Baie mense hou nie daarvan dat daar so oor die duiwel gepraat word en dat ons hom al die skuld vir ons sondes gee nie. Ja, die duiwel is ’n realiteit en probeer alles in sy vermoë om ons te pootjie. Tog moet ons ons eie verantwoordelikheid besef. Dit is ons wat die besluit neem om agter sy versoekings aan te loop. Ons kan hom nie die skuld gee wanneer ons ons dom hou vir goeie dade maar slim hou vir die sonde nie. Dit is my keuse om oor die kantlyne van die lewe te speel en ek moet die verantwoordelikheid en die pak slae daarvoor vat.

Weet jy hoe kom ’n mens weg van die sonde? Deur die goeie te doen. Wees op die uitkyk vir plekke waar mense jou goeie dade nodig het. Dan is daar nie plek of tyd om die verkeerde te doen nie. Dit is ’n voortdurende proses om te kyk waar jy goed kan doen. Onthou, ons sondige geaardheid keer dat ons die goeie wil doen!

Wanneer ’n mense besig is om goeie dade te doen, is daar minder ruimte vir sonde. Hou jou dom vir die sonde!

Om oor na te dink

Waar word jy gedruk om dinge te doen wat jou weglok van God af?

Watter sondes lê daar nog vir jou en loer?

Waar kan jy goeie dade gaan doen?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek