Tyd vir ’n diens
In Efese is daar mense wat nog heeltemal van die pad af is. Hulle het al met die mond bely, maar dit is nog nie sigbaar in hulle gedrag nie. Die dinge wat hulle doen, vertel nog die storie van voor hulle vir Jesus ontmoet het. Ek vermoed hulle het aangeneem dat hulle presies nog kan lewe soos wat hulle voorheen geleef het.
Dit staan Paulus glad nie aan nie en daarom gryp hy hulle met die pen voor die bors: 17Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie. Dit is wat die Here self wil hê. Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie. Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie. 18Hulle gedagtes is met onbelangrike dinge besig en hulle kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie. Daarom besef hulle nie eens dat God vir hulle ’n nuwe lewe wil gee nie. Hulle is hardkoppig en wil nie na rede of goeie raad luister nie. Daarom gaan dit so sleg met hulle. 19Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of verkeerd is nie. Hulle leef nou vieslike lewens en kan nie genoeg daarvan kry nie.
Sonder die Here in ’n mens se lewe kan daar niks goeds gesê word nie. Die dade vertel van ’n leë siel, ’n verstand wat heeltyd skeeftrek en waar verkeerde gedagtes gebore word. En die resultaat hiervan? Dade wat ook nie lekker lyk nie. Jy kan maar praat en probeer oorreed, maar hulle bly hardkoppig. Die lyn tussen reg en verkeerd het stippellyne geword.
Gelukkig is ons nie deel van die groep nie.
Maar ek besef dat ek nie die paar tekste net so kan aanskuif vir die ongelowiges en kwaaddoeners nie. Hier is ’n paar rooi ligte wat ook vir ons gelowiges flits.
Lig een: Hoe gedra ek my? Wat lees ander uit my gedrag? As ek nie een woord uit my mond laat kom nie, sal mense deur die manier waarop ek leef kan agterkom dat ek ’n kind van God is? Dalk is dit ’n goeie idee om jou familie, kollegas en vriende te vra om jou klankbord te wees en jou te sê watter storie lees hulle uit jou gedrag.
Lig twee: Wat gaan in jou gedagtes aan? Waarmee vul jy jou gedagtes? Onthou dat gedrag die gevolg is van ons gedagtes. As ons ons gedagtes met leë dinge vol maak, gaan ons gedrag ander nie kan vol maak en verander nie. Ons het wysheid in ons gedagtes nodig. Wysheid om te weet waarmee ons ons gedagtes moet vul. Uit wysheid gebeur ons gedrag.
Lig drie: Hoe maklik is dit vir jou om na wysheid te luister en dit deel te maak van jou gedagtes? Of byt jy maar vas in die manier wat jy geleer doen het? So baie keer kom ’n mens by mense wat so vasgewortel is in hulle manier van verstaan en van luister na ander is daar geen sprake nie. En die gevolg: 18Daarom gaan dit so sleg met hulle.
Lig vier: En vir die een moet ons pasop. Die lyn tussen reg en verkeerd raak ’n dowwe lyn. Ons het al so gewoond geraak aan dinge in die grys areas van die lewe doen, dat dit naderhand reg voel. En hier wil ek nie nou ’n klomp sondes in ’n ry sit nie. Ons almal weet van dinge wat ons doen wat nie reguit is nie.
Ek dink nou aan ’n motor wat gereeld gediens moet word, nuwe olie kry en al die bewegende deeltjies wat moet ghries kry. Dis vir ons ook nodig om gereeld ons geloof te diens en seker te maak al die dele is nog in ’n werkende toestand. Ons moet tog net nie aan die slaap gesus word nie, want as ons daar wakker skrik, kan ons dalk net van die pad af wees…
Teks:
Om oor na te dink
Watter storie vertel jou manier van lewe?
Waarmee vul jy jou gedagtes?
Hoe dik is die lyn tussen jou reg en verkeerd?
Gebed
Vader, ek weet ek moet meer na binne kyk. Ek weet die prentjie is nie altyd so mooi nie. Herinner my wanneer ek optree asof ek U nie ken nie. Amen