uFamilie ge-issue
Jou familie kan jy nie kies nie. Ek kan nie eendag besluit dat ek nou moeg is vir my ouers se broers en susters en hulle êrens gaan inruil vir ander nie. Ek kan nie ’n skêr vat en die bande tussen my broer en suster net eenvoudig gaan afknip en sê dat ek nou nie meer familie het nie. So kan ek nog minder na my vriende toe gaan en êrens iets teken om deel te word van hulle familie nie. Jy word soos die Engelsman sê ge-issue met ’n familie en met hulle sit jy tot die einde van jou lewe.
Die skrywer van Efesiërs gebruik die beeld van ’n familie om te wys wat Jesus vir ons reggekry het. Jesus het dit moontlik gemaak dat ons binne die familie van God en Jesus en die Heilie Gees ingeskryf word: 9Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie.
Jesus kry iets reg wat ons nie kon regkry nie. Jy sien, die sondeval het ’n breuk in ons verhouding met God gebring. Ons het dinge gedoen wat ons van God vervreem het met die gevolg dat ons uit die familie van God geskop is. Ons was soos die broer in die tronk. Almal het van ons geweet, maar niemand het oor ons gepraat nie.
Jesus se dood het die verhouding tussen ons en God egter weer herstel met die gevolg dat ons nie meer vir God vreemd is nie en Hy nie meer vir ons vreemd is nie. Die familiebande is weer herstel. Maar meer nog, die voordele van deel wees van God se familie val weer binne ons bereik en ons raak erfgename saam met Jesus. Ons kan nou weer vir God ken. Ons kan op ons familieplaas woon en elke dag van al die beloftes ontvang. Ons kan saam met al ons ander familie weer die lewe geniet en in harmonie leef.
Saam met die familie kom daar egter ook ’n groot verantwoordelikheid en dit is dat ons vir mekaar sal omgee. Ek onthou nog hoe ek as jongste van ses goed gekarnuffel is. Ek onthou nog hoe my boers my gejaag het en met tuisgemaakte veerpyltjies my hakke probeer raakgooi het. Maar ek onthou ook hoe hulle vir my opgekom het wanneer die menigte daar buite my wou onderkry. Dan was die bloed dikker as water en hulle sou deur dik en dun vir my veg.
Dit is die verantwoordelikheid wat ons teenoor ons mede-familielede in Christus het. Ons moet opkom vir mekaar. Ons moet deur dik en dun bymekaar staan. Soms moet ons mekaar aanspoor om die lewe reg te leef. Soms moet ons die ander een verdedig. Soms moet ons die ander een ’n stukkie op die lewenspad dra. Familie doen dit vir mekaar.
Jesus het baie reggekry. Sy kruisdood het ons weer familie gemaak. Hy het dit ook reggekry dat ons nie meer vreemd vir God is nie en het Hy vir ons ’n klomp broers en susters gegee. Kom ons kyk uit vir mekaar. Kom ons help mekaar om deur die lewe te kom. Kom ons leef soos ware familie saam.
Teks
Om oor na te dink
Wie is jou familie?
Gee hulle vir jou om?
Gee jy vir hulle om
Gebed
Jesus, dankie dat ek nie meer vreemd vir God is nie. Dankie dat ek by ’n nuwe familie ingelyf is. Dankie vir broers en susters. Help my om hulle nood raak te sien en hulle uit te help wanneer hulle iemand nodig het. Amen