God se Woord in vandag se woorde

Uit die mond van ’n pornografie-verslaafde


Vir baie is pornografie ’n gestoei. Kan ek vir jou ’n kykie gee in die harte van die stoeiers? Oom Koos (skuilnaam) skryf:

Hier sit ek en kry nog steeds skaam. Ek was deel van die mense wat na pornografie gekyk het. So dertig jaar gelede.

Nou, op hierdie ouderdom, besef ek die groot sonde wat ek teenoor God gepleeg het en is ek amper skaam om my gesig vir God te wys.

Die afgelope tien jaar was dit nog wonderliker, want die dringende behoeftes het verdwyn, so die ouderdom help.

Vir baie bly dit ’n gestoei met min oorwinnings. Pieter (skuilnaam) skryf hierdie roerende e-pos:

Ek wil graag vir jou vra om vir my te bid. Ek het ‘n probleem met pornografie. Ek is so bitter jammer dat ek die Here telkemale teleurgestel het, nadat ek om vergifnis gevra het, om net op ‘n ander dag weer daarin te verval.

Ek is ‘n kind van die Here, maar ek val op tye en kan die versoeking nie weerstaan nie.

Ek was vanoggend so skaam om by die Here te pleit om my te vergewe, dat Hy my sal skoon was met die bloed van Jesus. Ek het die sonde op sy naam genoem en oor en oor by die Here gepleit om my te vergewe.

Ek is so bang God draai Sy rug op my.

Ek het nie elke dag daarna gekyk nie, maar net wanneer ek nou dink ek is geestelik sterk, kom Satan en hy breek alles af!

Die grootste teleurstelling is dat ek tans ‘n kursus in Bybelse berading doen en ek verval dan in sonde! Ek weet nie of die Here my ooit sal vergewe nie. Hy het hierdie kursus op my pad geplaas en ek wil dit met volle oorgawe doen, maar Satan is nou so listig in my lewe, huwelik en verhouding met my kinders.

Ek het niemand na wie ek toe kan gaan om saam met my te bid dat ek vergifnis kan vra nie en om my geestelik sterker te maak nie. Jou naam het net in my gedagtes opgekom toe ek vanoggend besig was om reg te maak vir die dag. Asseblief, bid vir my!

Dalk moet ons nie te vinnig vinger wys nie. Daar is sommige wat rêrig vasgevang is en ons gebed nodig het. Mag ons soos Jesus ons oor hulle ontferm en hulle bystaan om hierdie uitdaging in hulle lewe te oorwin.

Teks
Hebreërs 13:1-8

Om oor na te dink
Wil jy iemand met ’n verslawing help?
Kan jy iemand met ’n verslawing help?
Hoe?

Gebed
Vader, help my om ander se nood raak te sien en hulle te help. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek