Uitgetorringde lappiesmens
Die omstandighede waarin ons is, het ’n baie groot invloed op ons menswees. Baie keer is die omstandighede so erg dat ’n mens voel asof daar géén, maar géén uitkomkans is nie.
Paulus sit in ’n swart gat. Hy weet dat die omstandighede in Korinte glad nie gunstig is vir Christene nie. Daar is ’n bakleiery onder mekaar en van buite kry hulle ook baie teenstand. Dit is ’n resep vir ’n groot gemors. Die kans dat alles tot nuut kan gaan en dat die kerk uitmekaar kan spat, is baie goed.
Te midde hiervan weet Paulus nie hoe sy eerste brief aan die Korinte ervaar is nie. Hy weet eintlik nie of daar nog een Christen oor is nie. Dit maak hom onseker en baie terneergedruk. Maar meer nog: Hy weet nie wat van Titus, wat soos sy eie seun was, geword het nie. Hy weet nie of hy nog lewe nie.
Hierdie bleek prentjie van die werklikheid het Paulus se gemoedstoestand erg aangetas: 5… Toe ek daar aankom, het ’n klomp probleme op my gewag. Van buite het geweld my in die gesig gestaar en van binne het vrees my oorval. Paulus was depressief.
5… Maar toe gebeur daar ’n wonderwerk. 6Weet julle, ons groot God wat in staat is om mense op te tel wat in die stof lê, het my ook kom optel uit die diep put waarin ek was. Hy het my bekommernis in ’n oogwink weggevat.
God is goed daarin om mense uit die stof op te tel, maar soms maak die omstandighede waarin ons is dit onmoontlik om op te kyk na God. Later verwag mens nie eens meer dat God iets kán doen nie, wat nog te sê van iets wíl doen. Tog moet ons nie ophou om te glo dat God ons in elke situasie kan help nie. As God vir Paulus kon help en hom uit die stof kon optrek, kan Hy dit mos vir my en jou ook doen?
Tannie T skryf uit die Rûens vir my –na aanleiding van Robin Williams se selfdood:
Weet jy, my lewe was ook soos Robin s’n. Ek kon net nie meer nie en ek wou nie aangaan met die lewe nie.
Ek praat toe weereens met God en sê: Here, my lewe is ‘n klomp los weggooi lappies wat geen doel meer dien nie.
God neem toe daardie lappies na Sy hemelse wassery, was en stryk dit en werk dit weer stukkie vir stukkie met Sy groot Genade aanmekaar. Skielik is daardie gedagte van wil nie meer lewe nie, weg. Hy het gekom om my, uitgetorringde lappiesmens, se lewe weer aanmekaar te werk. God se genade is te groot om te verstaan, tog is dit waaroor ons geloof gaan. Waaroor die liefde, die lewe en die ewigheid saam met Christus gaan. Hy het mos gesê “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.”
Baie dae trek sommige van die lappies weer los, maar dan kom God en werk dit weer aanmekaar. Ek besef net elke dag watter wonderlike God en hemelse Vader ek het.
Tannie T weet presies hoe Paulus moes voel toe hy in die stof gelê het, maar sy weet ook hoe dit voel om vas te hou aan haar God sodat Hy haar uit die stof kan trek.
Mag dit vir jou lewe ook waar word. Mag ek en jy saam met Tannie T en Paulus uitroep: 6… ons groot God wat in staat is om mense op te tel wat in die stof lê, het my ook kom optel uit die diep put waarin ek was. Hy het my bekommernis in ’n oogwink weggevat.
2 Korintiërs 7:5-7
Om oor na te dink
Waar druk dit?
Lê jy in die stof?
Glo jy dat God jou kán en sál optel?
Gebed
Vader, ek het die storie nou so nodig gehad. Ek het nodig dat ek weer die son sien om die lewe ten volle te kan geniet. Ek is moeg vir die omstandighede waarin ek is en wil daaruit kom. Dit is net U wat dit kan doen. Help my. Amen