Van moordenaar tot bedienaar van die Woord
Die outobiografie van Paulus is fassinerend. Paulus het die lewe in die rooi gedruk. Alles wat hy gedoen het, het hy passievol gedoen en altyd in volle vaart. As hy in iets geglo het, kon niks hom van stryk bring nie. As hy in dieselfde dinge glo waaraan sy ouers ook glo, moes alles wat nie op dieselfde pad is nie eenvoudig van die tafel gevee word. Daarom gaan hy op ’n jagtog om mense dood te maak wat nie soos hy glo nie.
Sjoe, dit was darem ’n anderse tyd waarin hulle gelewe het.
Maar met die ontmoeting van God langs die pad van Damaskus, verander Paulus se lewe ingrypend. Hy kom van aangesig tot aangesig met die almagtige God. Dit stop hom dood in sy gehol en hy is nooit weer dieselfde nie. Met ’n passie het hy die Christene doodgemaak en met presies dieselfde ywer storm hy die ongeredde wêreld in en wil almal met wie hy in aanraking kom tot Christus bekeer.
Al het die mense hom van g’n kant geken nie, kon hulle nie anders as om na hom te luister nie. Paulus vertel self: 22Op daardie tydstip het Christus se volgelinge in Judea my nog nie persoonlik geken nie. 23Al wat hulle van my geweet het, was die volgende brokkie nuus: “Daardie man wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die evangelie. Hy praat nou met ander mense oor die geloof wat hy vroeër probeer uitroei het.” Natuurlik was hulle baie bly daaroor.
Ek lag saggies in my mou oor die laaste sin. Vir seker is die mense bly dat hy nou die evangelie verkondig, want as hy nie êrens langs die pad gedraai het nie, was daar ’n kans dat hulle aan die einde van sy swaard kon wees. Daarom 24het hulle vir God dankie gesê dat Hy my nou gebruik om die goeie nuus bekend te maak.
Wanneer iemand in God vasloop, verander als. Radikaal. Paulus het eers mense met ’n passie vermoor, maar nadat hy in God vasgeloop het, doen hy presies die teenoorgestelde.
Ek raak yskoud toe ek na my eie lewe kyk. Ek ken tog vir God. Ja, ek het nie so ’n woesste ontmoeting soos Paulus gehad nie en ek het nog minder mense doodgemaak omdat hulle nie soos my pa en ma geglo het nie. Maar tog ken ek vir God. Ek is ’n Christen. Ek roep sy Naam aan. Ek sê met bravade dat ek eendag hemel toe gaan en ja, dit is so, want Jesus het ook vir my sondes aan die kruis gesterf. Tog steek ek vas by die laaste vers: 24Hulle het vir God dankie gesê dat Hy my nou gebruik om die goeie nuus bekend te maak.
Wie sê dankie? Wie sê dankie dat ek nie meer met die lewe mors nie? Wie sê dankie dat ek in God se kampie gekom het? Wie sê dankie dat ek nou God se goeie nuus uitsaai?
Dit stilte raas…
Ai, boys, ons kan nie toelaat dat die lewe dag vir dag verbygaan en dan is daar mense rondom ons wat Jesus se boodskap nodig het, maar dit nie hoor nie. God is magtig. Hy kan met slegs een ontmoeting ’n mens van moordenaar na bedienaar van die woord swaai. Net so wil God jou ook swaai. Hy wil deur jou ’n impak maak in die wêreld. Hy wil mense anders maak.
Gee vir God ruimte in jou lewe sodat Hy jou kan swaai. Mag ander mense dan sê: 24Hulle het vir God dankie gesê dat Hy my nou gebruik om die goeie nuus bekend te maak.
Teks
Om oor na te dink
Wie ken jy wat God in hulle lewe nodig het?
Wat kan jy doen?
Gee jy vir God genoeg ruimte om jou te swaai?
Gebed
Here, hier word ek weer so effe voor die bors gestuit, want ek wonder of daar genoeg mense is wat kan dankie sê vir my impak in hulle lewe. Dalk is daar ’n paar, maar ek weet U wil nog ’n groter impak in die wêreld maak. Ek wil meer ruimte maak vir U werking in my lewe. Swaai my om, Here en gebruik my om ander om te swaai. Amen