Van weeskinders na ware, rêrige, egte kinders van God
Paulus gebruik ’n wonderlike voorbeeld om te verduidelik hoe Jesus ons lewe en ons status heeltemal verander het. 1Kom ek verduidelik met die volgende voorbeeld wat dit beteken dat julle Abraham se erfgename is. Julle weet mos dat erfgename wat minderjarig is, nie kan aanspraak maak op hulle erfporsie nie. Hulle is nog te jonk om te erf. Eintlik is minderjariges niks beter daaraan toe as die bediendes wat in hulle huis werk nie. Al sê die testament dat hulle die wettige erfgename is, staan hulle nog onder die toesig van hulle voogde. 2Hulle erfporsie word beheer deur mense wat amptelik oor hulle aangestel is tot op die dag dat die testament sê hulle kan erf.
Hoe sleg moet dit nie vir kinders wees om hulle ouers te verloor nie, maar hoeveel slegter moet dit nie wees dat ander mense nou hulle lewe oorneem nie. Alles wat hulle doen en wil doen word nou deur ’n vreemdeling beheer. Ja, ’n mens verstaan dat hulle soms nog te jonk is om self te besluit, maar dit is tog sleg om so baie te hê wat vir eers net ’n pie in the sky moet bly.
3Weet julle, presies dieselfde het met ons gebeur. Voorheen was ons ook minderjarig. Dit was toe ons nog slawe was van die vyandige magte van hierdie wêreld. Die mense het almal in die weeshuis gebly en was vasgevang binne die mure van magte waarteen hulle nie opgewasse was nie. Eintlik was dit soos ’n tronk met geen vryheid nie. Die mense het die heeltyd oor hulle skouers geloer en gewonder wanneer hulle weer oorval word deur die bose.
Deur die genade tree God toe in: 4Maar toe die regte tyd aanbreek, die tyd waarop God self besluit het, het Hy sy Seun na ons toe laat kom. Christus se aardse ma het toe aan Hom geboorte geskenk. En, soos alle Joodse seuns, het Hy onder die reëls van die wet grootgeword. Dit is hoekom Hy almal wat onder die swaar gewig van die wet gebuk gaan, kan vrymaak. 5Christus het gesorg dat ons nou as God se kinders aangeneem word. Ons is nie langer weeskinders nie.
Ek onthou nog die fliek van ’n kind wat in ’n weeshuis grootword het en elke keer as iemand kom om kinders aan te neem, word hy oorgesien. Keer op keer kon ’n mens die skok van verwerping op sy gesig sien en amper self ervaar. Maar eendag het daar iemand gekom wat vir hom kans gesien het. Sy vreugde was groot! Hy het sy eie ma en pa gekry.
Dis wat Jesus kom doen het. Jesus het ons status as weeskinders verander na ware kinders. Ons het Jesus se broers en susters geword. God het ons regte egte Vader geword. Ons woon nie meer in die weeshuis waar ons verlossing net ’n pie in the sky is nie. Ons het nie ’n swaard wat die heeldag oor ons koppe hang nie. Nee, omdat ons nou ware broers en susters van Jesus is, deel ons ook in sy genade gawes.
Daar is soveel mense in die wêreld wat verkies om weeskinders te wees. Hoekom sal ’n mens die erfporsie opsy stoot en verkies om in kettings te leef? Nee! Ons moet lewe soos koningskinders. Ons moet leef as verlostes en die lewe gaan geniet. Ons moet vir die mense wys watter groot voorreg dit is om Jesus se familie te wees. Ons moet vir hulle wys wat beteken dit om in vryheid te leef en die lewe ten volle te geniet.
Ja, ons is nie meer weeskinders nie. Jesus se lewe hier op aarde het ons status verander. Ons kan nou as ware, rêrige, egte kinders van God leef.
Teks
Om oor na te dink
Wat beteken dit vir jou dat jy nie meer ’n weeskind is nie?
Hoe verskil die lewe van ’n weeskind teenoor ’n kind van God?
Kan ander mense dit sien?
Gebed
Onse Vader, hoe sê ’n weeskind dankie? Eintlik besef ek nie wat ek regtig het om ’n ware kind van U genoem te word nie. U moet ons mense darem baie liefhê om U eie seun op te offer, aan ’n kruis te laat spyker, eintlik as losprys te betaal, sodat die weeskinders U rêrige, êrige kinders kan word. Dankie, Vader. Amen