God se Woord in vandag se woorde

Vat die woorde vir ander teen jou oor


As jy jou uitsit vir ’n toffie, gaan iemand jou een of ander tyd kou. Soms doen of sê ek iets baie na aan die grens, dog nog dié kant van die draad en dan raak mense sommer gou kwaad en gooi modder na my kant toe. Soms maak dit effe seer. Soms wonder ek hoekom mense nou juis so lelik moet wees.

Ek weet kinders van die Here word nie ’n binnebaan gewaarborg nie.

Maar elke keer wanneer ’n klomp lelike woorde op jou neerreën, is dit nie lekker nie. Ek staan altyd so verstom dat die een mens ’n ander mens met soveel negatiewe en onnodige woorde bestorm.

Maar ons is nie alleen nie. Derduisende mense voor ons moes ook al die stortvloed van woorde verwerk: 33Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is.

Ons moet dus vrede maak met die feit dat ons een of ander tyd sleggesê gaan word omdat ons in Jesus glo. As ons gaan opstaan vir ander se regte of dalk die underdog wat onregverdig behandel word, se kant kies, moet jy weet, gaan jy dit teen die oor kry. Dis deel van die pakkie.

Dan moet ons wys genoeg wees om nie te retaliate nie, want dis mos eintlik ons aard. Ons wil opstaan en veg. Ons wil onsself regverdig. Ons wil die ander een wys op sy of haar tekorte.

Tog moet ons besef dat dit nie eintlik hier gaan help nie. Die opponerende persoon is nog altyd so en jou woorde gaan hom of haar nie sommer verander nie.

Ons hoef nie altyd as die wenner na ’n skermutseling gekroon te word nie. Soms is ’n mens juis die wenner deur niks te sê nie. Baie keer is jy groter omdat jy juis jou rug draai en met ’n sak wysheid daar wegstap.

En onthou, baie keer moet ons eers hierdie slegsê aan ons lywe voel om ervaring daarin op te tel, sodat ons ander kan help. Ek weet dis nie maklik nie en soms raak ’n mens keelvol daarvoor dat jy al die goed moet deurgaan, net om om die volgende hoek ander te help. Tog is dit ons roeping, want ons kan ander uit hul penarie red.

Vat maar die houe. Wees jy die sterker een en draai die wang. Die beloning is baie groter. Onthou, om in Jesus te glo, is nie altyd maklik nie. Mense kan jou probeer pootjie, maar ek wil jou regtig aanmoedig om aan te hou en uit te hou. So bly ons ware Jesuskinders.

Teks
Hebreërs 10:31-39

Om oor na te dink
Waar kry jy seer?
Waar kry ander seer?
Waar kan jy help?

Gebed
Vader God, hierdie is nie maklik nie, maar ek weet met krag van Bo kan ons die aanvalle teenstaan. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek