God se Woord in vandag se woorde

Vat God werk toe


Belinda (skuilnaam) vertel:

Ek wil net getuig van ‘n Godsverandering in ons werksplek.

Ek het by ‘n nuwe sub-afdeling as toesighouer begin. Die sub-afdeling gaan deur moeilike tyd weens sensitiewe ondersoeke binne die staatsdiens.

Die eerste dag wat ek ‘n vergadering in die nuwe sub-afdeling byeenroep, vra die oudste vrou of sy iets mag vra: “Kan ons asb. elke week met Skriflesing en gebed begin? Maar nie net in my nuwe sub-afdeling nie, maar ook die ander binne ons gebou wat onder dieselfde afdeling val”.  Let wel, ons is ‘n afdeling met multi-kulture.

Ek gaan roep toe die ander en die voorstel is deur almal met ope arms ontvang. Dit het so uitgebrei dat ons dit Vrydae ook doen. Ons vra God se leiding vir die naweek. Ons lees Bybel in Afrikaans, vertaal dit in Engels en Suid-Sotho, bid en sing in Engels en Suid-Sotho. Elkeen kan nie wag om skrif te deel nie en ons spreek seënwense oor mekaar.

Die spesifieke sub-afdeling se moraal was teen die grond en almal was so ongemotiveerd om werk te doen. Hulle was bang om besluite neem weens die ondersoek.

Maar, met die dat ons God by ons werk innooi en selfs gedurende die week mekaar met God se Woord bemoedig, het die gesindheid heeltemal verander. In plaas van stres ervaar ons kalmte, ten spyte van alles. 

Daar is ‘n gevoel van bo-menslike vrede in ons gebou. Ons almal ervaar dit. Ons werk in harmonie en waar een vrou altyd skreeuerig oor selfs kleinerige probleme was, het sy ook rustiger geraak en ons kan verskille uitsorteer in kalmte.

God is groot!

As God betrokke is, gebeur die dinge net anders. Kyk net wat gebeur as God begin woel: In plaas van stres ervaar ons kalmte, ten spyte van alles.

Baie keer sit ons met die antwoord vir die probleme, maar ons bring dit nie in nie. Hoekom doen ons almal nie soos Belinda-hulle nie? Vir hulle sub-afdeling het God net op die regte tyd gearriveer. En watter plesier is dit nie nou daar in die gange nie?

3Nou, op presies die regte tyd het God hierdie goeie nuus aan my kom bekendmaak. Hy het ook vir my gesê om dit aan ander mense te gaan oorvertel. En wat ’n wonderlike werk is dit nie om te preek dat God ons Verlosser is nie!

Dit is ’n wonderlike “werk” om God se verlossende boodskap daar waar ons werk en speel in te bring. Ja, eintlik is dit nie werk nie. Dis eintlik ’n fees en die gevolge in almal, selfs die tannie wat so brom, se lewe.

Kom ek daag jou uit. Gaan verkondig die verlossende boodskap, orals waar jy gaan. Neem God saam. Moenie skaam of lui wees nie.

Teks
Tit 1:1-4

Om oor na te dink
Is God daar in jou omgewing?
Wat kan jy doen om Hom daar in te bring?
Wanneer kan jy dit doen?

Gebed
Vader, U is die antwoord. Ek glo dat waar U beweeg, die dinge anders loop. Ek weet ek moet U meer bekendstel daar waar ek gaan, maar ek is bang ek slaan my naam met ’n plank. U sal moet kom help. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek