Vegifnis vir die kerk se stukkende heining
Op ’n vorige besoek van Paulus aan Korinte, was daar ’n man wat nie baie mooi dinge van Paulus gesê het nie. Baie mense was ontsteld oor die man se optrede en die gemeente het hom kortgevat. Maar dit blyk nou dat daar ’n klompie is wat nog steeds vir die man kwaad is. Paulus help die ouens mooi netjies reg: 6Dié man het al klaar sy straf ontvang. Julle het hom mos kwaai oor sy optrede aangespreek. 7Nou moet julle ophou om vir hom kwaad te wees. Vergewe hom en wys vir hom dat julle vir hom omgee. Die arme man voel al sleg genoeg oor sy sonde. 8Hou op om hom nog verder te ontstel, anders gee hy later heeltemal moed op.
Ons hou so lank die klip in die skoen van mense wat iets aan ons gedoen het. Soms vergewe ons die persoon, maar ons vergeet om van die oortredinge te vergeet. Elke nou en dan wanneer iemand oor die persoon praat, is ons gou om ’n klip op te tel en ’n eier saam met die ander te lê. Ons moenie dit doen nie. Soos wat Jesus doen, moet ons ander vergewe.
Maar meer nog, sê Paulus, ons moet vir die persoon omgee. Die persoon moet ons omgee aan sy lyf voel. Hy moet ons vergifnis aan sy lyf voel. In plaas daarvan om so ’n persoon uit te skuif in die koue na die buitewyke van ons verhoudings, moet ons so optree dat hy tuis voel in ons geselskap. Die persoon moet graag by ons wil wees omdat hy ervaar wat dit beteken om voor omgegee te word. So ’n persoon sal dan later self vir ander omgee en ander se lewens verryk. Dit is presies wat Jesus bedoel het. Dit is presies wat Jesus vir ons elkeen gedoen het en ons ervaar dit aan ons lywe.
Ek kry die kostelike e-pos van ’n persoon wat aan die ontvangkant was. Iemand wat vergifnis en omgee aan sy lyf ervaar het. Ek plaas die e-pos net so:
Hi
I’m the clever guy who pulled up his handbrake and the car hit the pole and gate, causing damage to the church fence.
I couldn’t concentrate at the service knowing I must tell the dominee.
But he was so cool about everything. He just said: Moenie worry nie, ek sal dit uitsort. He blessed me and off I went.
Ek wil net weer vir daai oom sê: Dankie. Dis die vinnigste wat ek ooit vergewe was. Ek wens almal was so forgiving soos hy. Asb. sê hom ek sê weer dankie en GOD BLESS HIM!
Die oom dominee het ge-practice wat hy preach! Iemand het vergifnis ontvang nadat hy ’n handbriek opgetrek het en veroorsaak het dat die kar in die kerk se heining vasgery het. Maar meer nog, hy het die omgee ervaar.
Mag ander dit ook van ons ontvang. Mag ons, soos Jesus en die Dominee, Jesus se vergifnis vrylik gaan uitdeel en mag ander ons omgee ervaar.
Om oor na te dink
Waar moet jy vergifnis gaan uitdeel?
Wie moet jou omgee ervaar?
Hoe moet jy dit doen?
Gebed
Vader, ek wil so graag vergewe. Ja, ek wil hê mense moet warmte en omgee ervaar. Help my om soos Jesus te vergewe en gee my wysheid om so op te tree dat ander altyd my omgee sal ervaar. Amen
Onthou om Kruispad se Facebook blad te like