Verblind deur die wêreld
Die Suid-Afrikaners het darem altyd ’n manier om nuwe grappe op die tafel te sit as daar een of ander groot ding in die wêreld gebeur. Soos weer met die COVID-19-epidemie bewys is. Die mense was nog nie eers behoorlik in hulle huise opgesluit nie, toe kom die vlaag mêmes en video’tjies aangevlieg, dat my foon so tjieng-tjieng maak. Ek moes hom later op sag sit, net om te konsentreer om my werk klaar te maak.
Ek dink dit is ’n verdedigingsmeganisme om die slegte wat die wêreld getref het, te hanteer. Net om te keer dat die virus nie die lekker uit die lewe wurg nie. Ons mense is goed daarmee om ’n negatief in ’n positief om te draai.
Hoe dikwels soek ons nie die lekker van die lewe op nie! Wie wil nou soos ’n ou suurknol by die huis sit, as al die ander die lekker van die lewe kan geniet? En daarmee is daar natuurlik niks fout nie.
Die probleem is, wanneer die lekker van die wêreld ons so insuig dat ons God se hand los. Jy sien, as die lewe vir ons al die lekker gee, hoekom sal ek dan nog God se hand vashou? Ek kry mos klaar al my vreugde en dit is vir my regtig lekker om hier in die wêreld tussen my pêlle te leef. Ek het alles.
Ongelukkig is dit nie alles nie. Dit lyk maar net so. Dis alles ’n skynwêreld, met skyndrome, skynvreugde. Selfs al het ek die perfekte werk; kuier ek ’n hond uit ’n bos; ken ek die wie’s wie in die wêreld; skitter die sterre as ek opstaan; weet almal wie ek is, maak niks hiervan saak as ek die oggend opstaan en so ’n leë kol op my maag voel nie.
Ek vermoed jy gaan vir my sê dat jy nie so is nie en dat jou voete mooi gevestig staan in jou geloof in God. Dis wonderlik en ek is regtig bly daaroor! As al die mense in die wêreld se geloof tog ook so was.
Hier is egter ’n opdrag spesiaal vir jou: 12Wees daarom wakker, my broers en susters. Maak seker dat daar nie iemand onder julle is wat so in die sonde baljaar dat hy die pad na die lewende God byster raak omdat hy God nie meer vertrou nie. 13Praat mekaar elke dag moed in terwyl God nog vir ons die kans gee om dit te doen. Help mekaar dat nie een van julle deur die lekker van die sonde so betower word dat julle God nie meer raaksien nie.
Ek en jy het so ’n groot opdrag hier. Ons moet ander help. Ander word so betower deur die lig. Hulle jaag so kliphard die liggies van die wêreld na. Hulle dans en speel so lekker daarin, dat hulle oë verblind word. Hulle kan nie God se lig sien nie. Hulle word so bedwelm, dat hulle later nie eers meer dink God is nodig nie. Inteendeel, hulle dink later God bestaan nie.
So sal hulle bly glo, totdat iemand anders hulle die ander kant wys. En dit is waar ons inkom. Ons moet seker maak dat daar niemand in ons eie invloedsfeer deur die liggies van die wêreld betower word nie. Elkeen van ons ken een of selfs ’n paar van hulle. Sommige vêr, sommige naby aan ons. Ons moet hulle elke dag moed inpraat en God vir hulle wys. Wys, want dit is nie net met die mond nie, maar ook met ons dade waar ons hulle fisies help.
As ons nie ons werk doen nie, gaan ’n klomp die punt van hulle lewe mis.
Teks
Hebreërs 3:7-19
Om oor na te dink
Het jy nog ’n bietjie van die wêreld se liggies in die oog?
Weet jy van iemand wat deur die liggies verblind word?
Wat dink jy moet jy doen?
Gebed
Vader, dis nie vir my maklik nie. Maar ek wil en gaan my bes probeer. Help my asseblief hiermee! In Jesus se Naam, amen.