Vergeetagtige luisteraar
Is jy ’n vergeetagtige hoorder of ’n doener? Hoeveel keer sit ’n mens in die kerk en jy hoor die Woord van God, jy weet die prediker het nou net vir jou gepreek, maar jy doen nie iets daaraan nie?
’n Tyd terug luister ek na ’n skitterende preek. Dit gaan oor daardie een ding wat jy moet regmaak. Net die een. Sjoe, ek het geweet die Here praat direk met my. Ek het selfs met my tjommie na die tyd daaroor gepraat.
Die boodskap het so baie vir my beteken. Tog is daardie een ding nog heel deel van my lewe. Goed, ek val nou nie heeltemal in by die vergeetagtige hoorder nie, maar het ook nog nie lekker by die doen-gedeelte uitgekom nie.
Ons moet begin doen. Ons moet Jesus vir die mense daar buite gaan leef. Ons moet Sy glimlag daar buite gaan uitleef. Al is dit die enigste ding wat jy nou gaan doen, gaan glimlag vir die wêreld.
Ek kry hierdie e-pos van Diekie:
‘n Pastoor het vir 12 jaar by ‘n kerk gedien. Hy het die gewoonte gedurende die oggenddiens op ‘n Sondag gehad om die kinders net voor sy preek vorentoe te roep, sodat hulle na hul eie spesiale kinderkerk kon gaan.
Die kinders sou verby die preekstoel loop en hy sou ‘n punt daarvan maak om vir elkeen van hulle te glimlag. Hy het glimlagte in ruil daarvoor teruggekry. Dit was een van die hoogtepunte van die diens vir hom.
Een dag het hy blykbaar egter een kind in die skare gemis en nie vir haar geglimlag nie. Die vierjarige krulkoppie het gehardloop en haarself huilend in haar ma se arms gegooi, terwyl sy gesnik het asof haar hart breek.
Na die diens het die pastoor gaan uitvind wat gebeur het. Die ma het verduidelik dat haar kind gesê het: ‘Ek het vir God geglimlag, maar hy het nie terug geglimlag nie!’ Die pastoor het daaroor nagedink: ‘Vir daardie kind het ek God verteenwoordig. Ek het met my glimlag misluk en die wêreld het donker geword.’
25Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.
Dit is God se wil dat ons Jesus vir die mense om ons sal wees. Dit is God se wil dat ons sal hoor en dan oorgaan in dade. Daar waar ons Sy Woorde vir ons hoor, daar waar ons in die kerk sit, of iets raaklees en weet, dis nou presies vir my bedoel, moet ons dit doen.
Moet tog nie ’n vergeetagtige hoorder wees nie. Doen en die wêreld om jou sal anders wees.
Al is dit net ’n glimlag …
Teks
Jakobus 1:19-27
Om oor na te dink
Hoor jy?
Vergeet jy?
Of doen jy?
Gebed
Onse Vader, hoe groot is U glimlag nie? Hoeveel impak kan dit nie in ons wêreld bring nie? Ek weet dit! Ek hoor dit. Laat my nie hoor en vergeet nie, maar juis hoor en glimlag. In Jesus se Naam. Amen.