Vergifnis vir die wat onreg doen
Kom ons lees weer die teksgedeelte: 6Dié man het al klaar sy straf ontvang. Julle het hom mos kwaai oor sy optrede aangespreek. 7Nou moet julle ophou om vir hom kwaad te wees. Vergewe hom en wys vir hom dat julle vir hom omgee. Die arme man voel al sleg genoeg oor sy sonde. 8Hou op om hom nog verder te ontstel, anders gee hy later heeltemal moed op.
My kommentaar hierop: Makliker gesê as gedaan. Vergewe kan ons seker, maar vergeet? Nie so vinnig nie. Kyk, wanneer ander mense met hulle groot bootse op jou trap, is dit seer en die merke sit vir jare daar. Dis veral die wat jy die liefste het wie se merke so lank sit. Nou sê Paulus: Bou ’n brug van vergifnis en kom oor die ding. Dis rêrig nie maklik nie.
Hoeveel stories hoor ’n mens nie van vriende wat saam in ’n besigheid gaan en dan vang die een iets aan wat die ander heeltemal stom laat en soms ook sonder enige geld. Eggenote wat net besluit om buite die grense van die huwelik te gaan speel. Dis seer. Dit raak ’n mens se diepste wese. Jy voel verneder, rou en seer en nou moet jy vergewe en vergeet en omgee? Aikôna!
Dit is nie maklik nie. Eintlik lyk dit heeltemal onmoontlik.
Sakkie (skuilnaam) het so gesukkel.
Ek en ‘n vriend was in ‘n motorfietsongeluk betrokke. Een met ‘n groot dis, ‘n trekker en nog ‘n motor. My vriend is dood toe ons in die hidroliese regop arm van die dis vasgery het. Met die sweepslag is alles van my aan my linkerkant gebreek van bo na onder. Ek was vir 7 dae in ‘n koma, van een hospitaal na ‘n ander sodat my linkerarm en -been geamputeer moes word. Deur die genade van die Here was ’n dokter aan diens wat eers probeer het voor hy afgesit het en vandag het ek nog al my ledemate.
Die hofsaak het 7 jaar geduur en in die hooggeregshof in Pretoria moes ek hoor dat ek myself uit iemand anders se dood wou verryk. Bitter en seer woorde, die dolk in my rug.
Of ek nou liggaamlik geskend was of nie, het glad nie saak gemaak nie. Toe ek buite die hof sit en met die Here stoei oor hoe onregverdig alles is, hoe rou dit van vooraf was met my vriend wat hemel toe is, het die Here met my gepraat en my die volgende vertel. Vir my was dit in ‘n hoorbare stem: “Vergewe jou skuldenaars sodat jy kan vry kom, anders word jy hulle slaaf en hulle weet dit nie!”
Die Here het my vrygemaak en emosioneel genees toe ek na die man stap wat die ongeluk veroorsaak het en hom vergewe het! No strings attached, plain– weg net vergewe!
Vergifnis is nie ‘n opsie nie, maar ‘n moet-doen!
Wanneer jy vergifnis uitdeel en so lewe dat ander nie voortdurend weer hulle skuld moet loop haal en van voor af moet dra nie, raak ’n mens anders. Jy raak ligter. Ja, dis nie maklik nie, maar God gebruik dit om jou nader aan Hom te bring. Dan verstaan jy God se vergifnis beter en jy kan so lewe dat jy selfs vir die persoon wat alles aan jou gedoen het, omgee.
As ek so na die storie van Sakkie luister, weet ek daar is hoop. Hoop vir vergifnis.
Om oor na te dink
Het jy iemand om te vergewe?
Sien jy kans om dit te doen?
Wat verwag God van jou?
Gebed
Vader, hoekom moet vergifnis dan altyd so moeilik wees? Hoekom kan ons nie soos U dit net uitsaai nie. Dis seker omdat ons nie U liefde vir ander in ons harte dra nie. Help ons, Here, om ook oor dié hekkie te kom. Help ons om te vergewe en te vergeet en om vrede te kry. Help ons om die bagasie van wat ander aan ons gedoen het by U kruis neer te sit. Amen