Vergifnis vir ’n tweede kans
Ek ontvang ’n aangrypende getuienis van Rita:
Ek het ook baie lank geworstel met ’n ding oor vergifnis.
Sien, my dogtertjie was gemolesteer en ek dink dis enige ouer se grootste vrees en nagmerrie! Maar, met God se genade is ons daardeur en is ons so te sê heel.
In die hofproses en alles wat daarop gevolg het, wou ek met alle geweld gehad het die man (sondaar!), moes die swaarste straf opgelê word waaraan mens kan dink. Ek het alle wraakgedagtes gehad en ek wou hê hy moes suffer vir dit wat hy ons aangedoen het.
Ek het die hatigste gedagtes gekoester tot op ’n dag toe die Here my tot stilstand geruk het en gesê het dat Hy daardie man ook liefhet! Jesus het wel begrip gehad vir waardeur ons gaan, en Hy was daar vir ons, maar wat van daardie sondaar wat Hom nie ken nie? Wat van daardie skepsel, wat God gemaak het, wat van hom? En wat van my? Ek wat elke dag wou streef om meer en meer soos Jesus te wees, wat van my?
In watter tipe mens was ek besig om te verander?
Ek het geweet ek MOET vergewe, afgesien van dit wat gebeur het. Ter wille van myself en ter wille van die sondaar waarvoor Jesus ook lief is!
En wat meer is, ons wat graag deur God as instrumente gebruik wil word, was ons nie ook maar net gebruik as instrumente om daardie man se vuil lewe van drank, vrouens, seks en toe die molestering, tot stilstand te ruk nie?
Waar hy toe alleen in die tronksel sit en waar hy baie tyd gehad het om na te dink, het God hom nie dalk daar gaan ontmoet nie?
Ek weet nie, ek het nie kontak met hom nie. Maar net dalk het dit so gebeur en was dit deel van God se reddingsplan vir daardie man se lewe.
Maar ’n ding wat ek wel weet en ek loof ons Here daarvoor, is die feit dat ek vandag op ’n plek is waar ek vir daardie man ook kan bid.
No matter what, almal verdien ’n tweede kans. God het my ’n tweede kans gegee, so wie is ek om nie ’n mens te vergewe wat teen my (en my kind) gesondig het nie?
Om vergifnis uit te deel, is nie net bevrydend vir die ander persoon nie, maar glo my, vir jouself ook. En wat meer is, Jesus is op pad, en ek glo dit meer as ooit tevore. Daar is nie meer tyd oor vir wêreldse onbenullighede nie. So, daar is nie meer tyd oor vir baggage nie.
Ons moet light travel deur die lewe. Enige iets wat nie van die Here af is nie, en enigiets wat jou nie stig nie, gooi dit af! Dis onnodig om so iets in jou lewe te hê.
Ek het maar net gevoel ek moes dit sê!
Dankie Rita, jy help my om hierdie vers te verstaan: 32Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.
Teks:
Om oor na te dink
Hoe swaar hoog lê die vergifnisberg voor jou?
Waar moet jy begin?
By wie?
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, ek weet dat U ook op aarde is. Ek glo dat U Gees in ons woon. Ek het U Gees nou nodig om my hand te neem en teen die berg uit te worstel. Amen