Verhoudings word met gom gelap
Hulle spot mos en sê die eerste ding wat ’n Suid-Afrikaner doen as hy op ’n nuwe plek kom, is hy stig af. Steek daar nie ’n hoop waarheid in nie?
Soveel gemeenskappe is al in twee geskeur deur twee korrelkoppe wat maar net nie kon saamstem en om een tafel sit nie. Soveel kerke is al in twee kante verdeel omdat die een groep agter die dominee of pastoor staan, terwyl die ander so ver as moontlik wil weghol van hulle af.
Die meeste van die kere is daar geen wenners nie. Inteendeel, die beeld van God en sy mense ly net skade en daar is gewoonlik ook ’n hoop geld wat in die niet verdwyn.
Dit was nie altyd so nie. Reg in die begin het ons mekaar se drumpels deur gekuier. Ons het saam hard gewerk aan dieselfde drome en saam baie suksesse behaal. Dit was eintlik erg lekker om so saam om die tafels te kuier en aan dieselfde droom te werk. Amper soos Paulus vertel van die jong Christene van Filippense: 5Julle staan mos soos een man saam agter God se goeie boodskap met nog presies dieselfde vuur en oortuiging as aan die begin.
So wat het gebeur dat ons die vuur en die oortuiging plek-plek langs die pad verloor het? Wat was die oorsaak dat ons nie meer saamstaan nie? Hoekom is die dinge nou anders as toe ons saam begin het?
Ek het ’n sterk vermoede dat daar iemand is wat al sy energie insit om verhoudings aan flarde te skeur.
Dit is eintlik so voor die hand liggend, maar weet jy dat ’n pyp altyd op die heel swakste plek bars? ’n Pyp bars nie op die tweede swakste plek nie, nee, dié plek kom eers volgende aan die beurt. Maak nie saak waar in ’n ellelange pyp die swakste plek is nie, dit sal altyd eerste daar bars.
Verhoudings is een van die sensitiefste plekke in ons mondering. Dis asof die duiwel sy bes probeer om, soos ’n bokser orals waar hy gaan, die heeltyd sy opponent se nier te target en mense se verhoudings aan te val. Hy weet as hy ’n wig kan inkry tussen twee mense, die gevolge gewoonlik katastrofies is.
Kyk maar om ons op die horison hoeveel lyke lê daar van verhoudings wat aan skerwe lê. Nee, eintlik hoef ons nie so ver te kyk nie. Kyk sommer hier om ons. Dis seer. Dis eina!
Hoekom lyk dit so?
As jy mooi na die vers gaan kyk, sal jy sien dat ons saam agter God se boodskap moet staan, maar dit kry ons nie lekker reg nie. Op ons eie gee ons net die eie-ek kos en wanneer ons dan bymekaarkom, is dit my wil teen jou wil en die sterkste een wen.
God en sy Woord is die gom wat ons saambind. Sonder die gom trek ons verhoudings los en val ons uitmekaar. Sukkel jy ook êrens in ’n verhouding? Lap dit met gom, God se gom.
Maak weer ’n commitment met die mense rondom jou. Werk met alles in jou aan jou verhoudings.
Om oor na te dink
Hoe lyk jou verhoudings?
Waar sukkel dit?
Watter rol speel God en sy Woord daarin?
Gebed
Vader, ons sukkel. Dit gaan nie goed met ons verhoudings nie. Ons kry dit nie op ons eie uitgewerk nie. Help ons om U woord weer die fondasie van ons lewe en verhoudings te maak. Amen