Vernietigende begeertes
Ek is terug by die vakansie van 16 dae. My oë het omtrent uitgepop toe ek op die skaal klim. Ek het 4 kg meer geweeg! En dit was nie net ek nie. Omtrent almal het soveel opgetel.
Dis seker nie so erg nie. Wanneer ’n mens met vakansie gaan, styg die gewig gewoonlik. ’n Mens moet net seker maak dat jy weer na die vakansie daai ekstra gewig afskud, anders gaan dit op verkeerde plekke vir altyd vaspak. En dan raak alles ’n gesukkel. Om sommer net van punt A na punt B te loop, jaag jou asemhaling op. Om op te staan, moet jy nou ewe skielik êrens druk. En daai veters vasmaak …
Ek besef maar net weer dat ’n mens die heeltyd op jou hoede moet wees. Want selfs iets lekker soos kamp, afskakel en lekker eet, kan omdraai en jou in die hakskeen byt. Dit kan selfs so erg word dat dit jou gesondheid affekteer.
Ek lees weer die teksvers: 12Nou wys Hy vir ons hoe om ’n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Die woord “vernietigende” spring dié keer uit. So maklik kan ’n begeerte ons in ’n hoek vasdruk, baie van ons steel en ons totaal en al van die pad af druk.
Dis nie ’n lekker onderwerp nie, maar ons moet dit tog aanraak, want begeertes kan groot skade in ons lewens berokken. Selfs kos kan ’n klomp jare uit ons lewe afsny. Ek vermaan kort-kort my tjommies, want hulle eet nie reg nie. Hulle lewenstyl was van so ’n aard dat hulle die heeltyd op verkeerde tyd eet en dan maak dit net vet en nou lyk hulle so. Kos het ’n begeerte geword en dit breek af.
Maar natuurlik is daar ook ander begeertes wat net afbreek. Pornografie breek die mooi wat God vir die mens gegee het, in stukkies op. Ewe skielik word die eggenoot se aandeel saai, want pornografie skep ’n erg skewe prentjie en reduseer intimiteit na ’n dierlike aktiwiteit. Dis dalk erg gesê, maar die begeerte om net rowwer en kaler prentjies en video’s te kyk, breek, slaan stukkend en verwoes.
En so kan ons die lysie baie langer maak. Drank, geld, klere, kar, huis, werk, aansien, kos, seks en nog vele meer. En gaan kyk nou maar mooi na elkeen van hulle. Op sigself is dit nie verkeerd nie, maar as dit ’n begeerte word, slaan dit van positief oor na ’n negatief. Dis dan wanneer dit vernietigend word.
Met behoeftes is daar niks verkeerd nie. Dit is dinge wat ons nodig het om deur die lewe te kom, baie daarvan ter wille van oorlewing. Die probleem kom in wanneer ons toelaat dat die behoeftes so knaend raak dat dit oorgaan na begeertes toe. Ons moet hard werk om ons behoeftes te vervul, maar die begeertes moet ons liewer los, want soos ons nou al ’n paar keer gehoor het, dit vernietig en verwoes ons en ander om ons.
Dit het dalk weer tyd geword om êrens te gaan stil word en seker te maak dat begeertes nie in ons lewens sy lêplek kom kry het nie. Vra sommer ’n vriend of vriendin om saam met jou te kyk, want voordat jy jou kom kry, kan die behoefte in ’n begeerte ontwikkel en lê verwoesting net om die draai.
Die Gees sal jou ook hier help, as jy wil.
Teks
Tit 2:11-14
Om oor na te dink
Hoe verstaan jy die verskil tussen behoeftes en begeertes?
Is daar dalk iets wat jou by jou neig om ‘n begeerte te word?
Hoe kan jy daarvan ontslae raak?
Gebed
Here, daar is party dinge waarvoor ek maar net nie “nee” kan sê nie. Help my asseblief om vry te kom, sodat U my beheer en ek nie agter elke begeerte wat in my hart opkom, aanloop nie. In Jesus se Naam, amen.