Versigtig oor die klippertjies
Paulus is besig om vir Titus te vertel hoe hy die mans en vrouens moet lei om binne God se wil te leef. Paulus se vertrekpunt is dat jonger mense by ouer mense leer. En dit beteken nie dat jy eers 50 moet word om ’n voorbeeld vir ander te wees nie. Die hoërskoolleerling kan ’n voorbeeld vir die laerskoolleerling wees. Die student vir die hoërskoolleerders. Die jong werkendes vir die studente. Die jong getroudes vir die enkellopendes.
Ons elkeen het iemand wat ons dophou. Ons elkeen stap voor ’n ander en hulle probeer ons treë volg. Daarom is dit so belangrik dat die voorbeeld wat ons hulle gee, ’n goeie een moet wees. As ons twee rye spore stap, m.a.w. te veel gevat het, is dit nie maklik vir ’n ander om ons te volg nie. Inteendeel, ander moet ons dan nie volg nie, want dan lei ons hulle in die verkeerde rigting en is ons verantwoordelik vir ’n ander se strompel en dalk val. Daai ene kom dan op ons boek.
Hier is die aanbeveling, en alhoewel hier pertinent met die vrouens gepraat word, geld dit tog vir ons mans ook:
3… Hulle moet goeie raad kan gee, 4sodat hulle die jonger vrouens kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees … (‘83-vertaling)
In die ‘83-vertaling het daar egter een woord onvertaald gebly. Naamlik sōphronizō wat o.a. vertaal kan word met “versigtig”: sodat hulle die jonger vrouens kan leer om versigtig te wees …
Net so tussen hakies. Ek vermoed die woord het onvertaald gebly, omdat dié Griekse woord net een keer in die Nuwe Testament verskyn en hulle nie lekker geweet het hoe om dit te vertaal nie.
Die feit bly dat ons deur ons manier van lewe ander moet leer om versigtig te wees. En dis nie so maklik nie, veral as jy ’n geaardheid het om sommer net in te spring voordat jy die water getoets het. Ons sê dikwels dinge, sonder om te dink en die wagte wat ons aangestel het om te keer dat die woorde nie uitglip nie, sit en slaap. Die gevolge is gewoonlik katastrofies.
Ek het al met my dade op plekke gekom waar ek nie moes nie en die seer was swaar. Die meeste van die kere omdat ek nie versigtig genoeg was nie.
Ons kan die jonger geslag baie seer en swaar spaar as ons hulle kan wys wat versigtigheid is. En hierdeur bedoel Paulus vir seker nie dat ons die jonger geslag se handrem moet optrek nie.
Moenie hulle bepreek en die heeltyd op hulle case wees nie. As hulle eers hulle ore wegdraai omdat pa en ma te veel geneul het, sukkel jy om enige iets verby hulle ore en oë te kry.
Die voorstel is gee goeie raad. Moenie dit op hulle afdwing nie. Praat mooi met hulle en gee dan die stokkie oor. Ek sê altyd: Use it or loose it. Maak daarmee wat jy wil.
Ek sien my seun is laatnag nog aan die woel met sy foon. Ek begin dadelik in my kop reëls neerlê van so laat die foon afneem en ’n duidelike rooster opstel van nie foontye.
Gelukkig kom ek tot my sinne. Ek gaan eerder in ’n gesprek met hom oor skermtyd, help hom en maak voorstelle om die skermtyd reg te bestuur.
Ek vermoed, en hoop tog, dat hy nou meer versigtig is.
Teks
Tit 2:1-5
Om oor na te dink
Foeter jy ook sommer in?
Hoe kan jy meer versigtig wees?
Vir wie moet jy dit wys?
Gebed
Vader, ek moet bieg dat versigtigheid nie eerste by my kom nie. Ek bars te gou in en is eintlik nie ’n goeie voorbeeld vir die jongeres nie. Help my hier en vat my hand om eers te dink en dan te doen. In Jesus Naam. Amen.