God se Woord in vandag se woorde

Versterkings inroep vir die regte pad


Filippense 1:3-11

Hoe lewe ’n mens reg? Deesdae is die reg en verkeerd so deurmekaar verweef dat ’n mens nie meer weet watter kant toe nie. Hierdie gesukkel om te weet waar die lyn van reg en verkeerd lê, word mooi deur die volgende storie uitgebeeld:

’n Dogter wou op ’n dag iets doen wat glad nie haar ma se goedkeuring weggedra het nie – nie soseer omdat dit ’n sonde was nie, maar eerder omdat dit nie volgens haar norms en waardes reg was nie. In haar hardkoppigheid het die dogter bly stry oor haar eie voornemens teenoor haar ma se teenkanting. Een aand sit hulle voor die kaggelvuur waarvan die meeste kooltjies reeds uitgebrand het.

“Gee vir my asseblief een van die kooltjies aan. Die vuur is mos lankal dood en sal jou nie brand nie,” sê die ma.

Verontwaardig antwoord die dogter: “Dit sal my miskien nie brand nie, maar ek gaan my hande bemors met die roet!”

“Presies,” sê die ma, “dit wat jy wil doen, gaan jou miskien nie brand nie, maar jou menswees en karakter vir seker besmeer.”

Dis moeilik om vandag reg te lewe. Op ons eie kry ons dit nie reg nie. Dit weet ons. Ons is eenvoudig net nie bevoeg om teen die aanvalle van die bose op te staan nie. Die grys lyne van die grense raak verweef in die donker, grys wêreld daar buite. Everything goes en ons is onseker watter pad om te loop.

Daarom is dit so belangrik om versterkings in te kry. Iemand moet ons help om op die regte pad te kom en te bly. Daar is so iemand, sê Paulus: 11Jesus Christus sal julle help om reg te lewe. So sal mense aan julle kan sien hoe wonderlik God is. Dan sal hulle met opgewondenheid oor sy grootheid praat.

Vir die meeste van ons is dit nou nie juis nuus nie. Ons weet dat Jesus vir ons gesterf het aan die kruis. Ons weet dat Hy sy Gees agtergelaat het om ons te help om die regte pad te loop, maar hoekom kry ons dit nie reg nie? Hoekom foeter ons gereeld op die verkeerde pad? Hoekom maak ons so maklik die verkeerde keuses? Mense sukkel om die wonderlike God in ons te sien, want ons dade verblind hulle. Ja, die dinge wat ons aanvang, stoot mense eintlik weg van God af. As dit is hoe ’n kind van God optree, wil ek niks met sy God te doen hê nie…

Eina!

Ek weet waar die fout in meeste van ons se lewe lê. Ek weet hoekom maak ons baie verkeerde keuses en hoekom ons so gereeld van die pad af is. Ek verstaan hoekom mense nie opgewonde is wanneer hulle na baie Christene se manier van lewe kyk nie. Hoe kan Jesus ons reghelp en op die pad hou as ons aanhou om in ’n ander rigting te foeter? Hoe kan die Gees ons lei as ons te vêr is sodat Hy ons hand kan vat?

Ek besef maar net weer dat ek op my eie ’n groot gevaar is. ’n Groot gevaar vir myself, maar ook vir die mense rondom my. Dis amper soos ’n loose cannon met geen keer nie.

Nee, so kan dit nie aangaan nie. Kom ons keer weer terug na die plek waar ons weet ons moet wees. Kom ons doen die dinge wat ons weet reg is. Kom ons gee God, Jesus en die Heilige Gees weer hulle regmatige plek in ons lewe. Kom ons maak ’n positiewe impak orals waar ons gaan. Mag ander dan vir Jesus deur ons sien en ook opgewonde oor Hom raak!

Om oor na te dink

Hoe lyk jou lewe?

Hoe naby is Jesus?

Raak ander opgewonde omdat hulle Jesus in jou raaksien?

Gebed

Onse Vader, ek bely my sondes voor U. Ek vra om verskoning dat ek so vêr van U dwaal. Ek wil nie. Ek is skuldig en vra dat U my weer skoon sal was. Ek wil nader aan U kom en gee daarom nou weer my lewe oor aan U. Mag ander U in my sien. Mag hulle opgewonde raak oor U en baie oor U praat en sing. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek