God se Woord in vandag se woorde

Vertrou met alles


As jy een oggend wakkerskrik en besef dat God deur die nag met jou gepraat het, sal jy kan stilbly? En as God vir jou gesê het jy moet jou penne optrek en na ’n onbekende land gaan, want daar sal Hy jou erg seën, sal jy die nuus graag deel met jou eggenoot, vriende of ouers?

Ek wonder wat sal ek sê as ek ’n boodskap ontvang dat ek alles hier in die mooie Stellenbosch moet los en ’n geel ou Fleetline-kombi aanskaf en die stofpad aandurf die onbekende in? Sjoe, ek bly darem nou lekker hier en alles is so bekend en net om die hoek …

Wel, dis presies wat met Abraham gebeur het. Hy het ’n oproep van God ontvang waarin hy ’n opdrag gekry het om sy bekende wêreld, die plek waar hy grootgeword het, daar waar hy van die lewe geleer het, net so te los en te trek. Hy het nie eens lekker geweet waarheen nie, want God sou hom, soos hy trek, die pad wys.

Ek haal my hoed vir hom af.

8God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan.

Hierdie een vers gee vir ons ’n baie goeie prentjie van wie Abraham was. Abraham moes ’n baie spesiale verhouding met God gehad het en juis daarom moes hy God goed geken het. In hierdie intieme verhouding met God, was Abraham bereid om alles op te offer en presies te doen wat God van hom vra en verwag.

Wanneer ’n mens baie tyd saam met God spandeer, wil jy presies doen soos Hy van jou verwag. Toe God roep, het Abraham nie twee keer gedink nie en sy goed gevat en getrek. 9En die rede: hy het God heeltemal vertrou.

Ons kan slegs alles verkoop en ’n geel Fleetline-kombi gaan koop om die onbekende in te gaan, as ons God werklik vertrou. ’n Kind sal slegs van ’n hoogte in haar pa se arms spring, as sy haar pa 100% vertrou en die vertroue kan slegs staangemaak word deur die kind wat die pa goed leer ken het en weet waartoe hy in staat is.

So, op die vraag of ek en jy alles sal los en agter God se opdrag sal aantrek, moet daar reeds ’n dik verhouding met Hom wees. Ons moes reeds ure, dae se tyd met Hom gespandeer het. So sal ons seker weet dis God wat ons roep. So sal die vertroue reeds vasstaan, sodat ons met alles daarop kan leun.

Mag dit vir ons ’n aansporing wees om net soos Abraham te spring, al sê God wat. Mag ons meer en meer tyd saam met God spandeer om Sy stem te leer ken. Mag ons Hom leer ken as die liefdevolle Vader wat net die beste vir ons wil hê. Mag ons Hom met alles in ons vertrou.

Teks
Hebreërs 11:8-19

Om oor na te dink
Hoeveel tyd bestee jy met God?
Ken jy God goed?
Vertrou jy God 100%?

Gebed
Vader, ek het ’n begeerte om U meer te ken, om meer tyd saam met U te spandeer. Help my om tyd vir U in my besige dag te maak. Ek wil U met alles in my vertrou en doen soos U wil hê ek moet doen. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek