Vir altyd
Sjoe, hierdie gaan nou ’n eenvoudige voorbeeld wees, maar ek hoop dit dryf die laaste spyker lekker diep in vir ons gewone mense om te verstaan.
Met die droogte in die Wes-Kaap, het almal tenke gekoop om hul eie water op te gaar. Die meeste mense seker net om hul gewete te sus, want met daai klein tenkie wat nêrens heen opgekoppel is, gaan ’n mens nie vêr kom nie. Dis in ieder geval te veel moeite om daaruit water aan te dra.
Ek het die ding so-effe uit ’n ander hoek bekyk. ’n Langtermynplan in werking gestel, want ek het besef wat in die Kaap is, is nie sommer ’n gegewe nie, maar dat die prys elke jaar lekker gaan klim, is vir seker in sement vasgegiet.
Met die hulp van ’n vriend, kry ek ’n 5 000-liter tenk of twee en oor ’n tydperk van nog ’n paar jare skaf ek nog aan, totdat ek nou al ses het wat op strategiese plekke staan. Dit reën net so oor die 50mm, dan is al die tenke vol.
Ek koop by die koöperasie vir my ’n drukpomp en skakel die stelsel in by ons huis se waterwerke. Vroeg in die winter skakel ek die munisipale water af tot lente toe. Dan spaar ek die water om die tuin deur die somer te trek.
Met hierdie nuwe sisteem spaar ek hope geld en is ek verseker van ’n groen tuin.
Die sisteem is beslis baie beter as die ou sisteem en almal, veral my sak, vind baat daarby.
Die nuwe stelsel wat God en Jesus op die aarde geïmplementeer het, was soveel beter as die vorige stelsel. Die vorige stelsel was vol gate en was vir seker nie haalbaar nie.
Die vorige een het ontstaan uit die wet. Die wet het dit met ’n fyn oog dopgehou. Dit kon seker goed gewerk het, as daar nie sonde in die wêreld was nie. Maar ai, die mense was vol sonde. Selfs die hoëpriester was ook maar mens en het so nou en dan in die gat getrap.
Wanneer die priesters dan offers gebring het, wanneer ’n koei doodgemaak moes word, in plaas daarvan dat die mense self moes pak vat vir hulle verkeerde dade, was dit net tydelik. Die offerande het dus nie vir ewig gehou nie en moes weer en weer en weer gebring word.
Gelukkig bring God ’n nuwe stelsel in. ’n Baie beter sisteem wat vir elke mens op die aarde soveel baat. Met Sy ere ware woord, stel Hy vir Jesus aan en verseker die mense dat Jesus eens en vir altyd genoeg is om pa te staan vir die straf vir die mens se sonde.
Jesus, die volmaakte, doen toe genoeg. Genoeg vir altyd en bring die enigste, genoegsame offer vir die mensdom se sonde. Vir altyd en ewig is die skuld van die al die nasies van die wêreld betaal. En dit sal vir altyd so wees!
Blikkies!
28Laat ek dit ’n bietjie saamvat: die hoëpriesters van ouds was maar swak mense. Nou, na die wet, het God met ’n eed sy Seun Hoëpriester gemaak. Hy is volmaak en sal sorg dat alles gedoen word wat nodig is. Dit sal vir altyd so wees.
Teks
Hebreërs 7:26-28
Om oor na te dink
Dink mooi wat Jesus vir jou gedoen het?
Verstaan jy die impak van die nuwe sisteem op jou lewe?
Hoe beïnvloed dit jou manier van lewe hier op aarde?
Gebed
Vader, Jesus, watter ongelooflike nuwe sisteem is hierdie nie. Soveel beter as die vorige, soveel meer vir ewig ’n wenner vir almal wat glo. Dankie, dankie, dankie! Nou staan ek ook ’n kans om die hemel in te gaan. Amen.