Vir die getroudes
Die kleinseun kom by sy oupa en vra: “Oupa is darem nou al lank met ouma getroud. Dis darem seker lekker om vir so lank jou lewe met een mens te deel?” Oupa het lank net so in die verte gekyk, so asof hy ’n vinnige voëlvlug oor sy huwelik neem. Uiteindelik praat oupa sag: “Ja, my klong. Ek het nooit aan skei gedink nie, maar wel aan moord!”
Oupa lag kliphard vir sy eie grappie, maar kyk vinnig om of ouma hom nie gehoor het nie.
Om getroud te wees en getroud te bly, is nie altyd maklik nie. Soms maak die ander een jou so die josie in dat jy voel om iets te gryp en die ander een te gooi. Dis moeilik om die ander een se punt in te sien. Dis moeilik om van jou bankie af te klim en by die ander een te sit. Want dis moeite en dit trek amps en baie kere moet jy nog ’n stukkie van jouself ook afsny.
Tog is dit die beste, want dis hoe God dit beplan het. God het gewonder wat die beste platforms sou wees waar kinders veilig sou wees. Daarom het Hy die huwelik uitgedink, om ’n omgewing te skep waar kinders die wêreld ingelei kan word. Soos ’n springmat word die kinders die wêreld in gepos met ’n sak vol gereedskap om hul eie maat te gaan soek en hul eie gesinne binne die huwelik groot te maak.
Klink soos ’n feëverhaal, veral as jy na die slagveld van huwelike om ons kyk. Dis nie meer die norm om getroud te wees nie, en ek vermoed ons kinders lyk soos hulle lyk omdat hulle nie meer in die veilige omgewing van ’n huwelik grootword nie. Nog minder weet hulle hoe om dit te doen, omdat hulle nêrens sien hoe hulle moet maak om die ding te laat werk nie.
Ek raak al hoe meer bewus dat alles deur seisoene gaan. So gaan ons huwelike ook deur seisoene. Daar is somerseisoene en winterseisoene. In die somerseisoene moet ons genoeg energie bymekaarmaak vir die koue winters. Ja, soms gaan daar ’n koue oorlog woed, maar êrens moet een van die twee ’n skietstilstand uitroep. Dalk moet een ’n hoop vergifnis bymekaarmaak en een vir een by die ander een gaan uitpak.
Die huwelik is nie maklik nie. Daarom dat oupa grap oor moord. Daarom die opdrag: 6… Hy moet getrou wees aan sy vrou. En natuurlik andersom ook: die vrou moet ook getrou bly aan haar man.
Vandag is daar soveel maniere waarop ’n mens ontrou kan wees. ’n Mens kan ontrou wees deur na goeters op skerms te kyk wat buite die grense van ’n huwelik pas. Ek hoef nie hier ’n graaf ’n graaf te noem nie. Almal weet hoe maklik goedjies met min of geen klere op jou skerm verskyn.
Laat die rooi ligte in jou kop flits as dié versoekings oor jou pad kom. Dit kom steel jou vreugde. Dit kom steel jou getrouheid.
Die wêreld het goeie huwelike nodig. Ja, ek weet soms voel moord na ’n beter uitweg, maar byt vas. Wees die minste. Dien. Gee. En wys die wêreld wat God bedoel het met die platform om sy kinders in groot te maak. Dit is ’n groot verantwoordelikheid.
Staan op en gaan gee jou eggenoot ’n lekker druk en sê hoe baie jy hom of haar waardeer. En as jy nog nie een het nie, bid dat God jou sal wys …
Teks
Tit 1:6-10
Om oor na te dink
Wat is jou siening van die huwelik?
Waardeer jy jou eggenoot genoeg?
Waar moet jy anders?
Gebed
Jesus, dankie vir die goeie plan met die huwelik. Jammer, dat ek soms die hoeder ruk en nie eerste aan die ander een dink nie. Amen.