God se Woord in vandag se woorde

Vol bakkies uit te deel


Die tannie oorkant die straat gee altyd iets terug as sy iets van ons gekry het. As ons ’n bakkie kos of ’n warm broodjie of ietsie lekkers oorstuur, kom die bakkie nooit leeg terug nie. Of dit nou ’n sakkie koekies is of ’n paar vrugte, hulle kan nie ontvang sonder om terug te gee nie.

Daarom is die vertaling vir my so mooi: 10God is regverdig. Hy sal onthou wat julle alles vir Hom doen. Hy weet dat omdat julle Hom liefhet, julle gedurig ander Christene help en altyd reg is om te help waar julle kan.

Soos die tannie nie anders kan as om terug te gee, omdat sy ontvang het nie, kan die mense wat God liefhet, hulleself nie keer om goed te doen aan ander nie. Hulle ontvang soveel in hul liefdesverhouding met God. Keer op keer, dag vir dag, ontvang hulle bakke vol genade van God.

Hulle kan nie die bakke leeg terugstuur nie. Dit gebeur eintlik outomaties dat hulle in reaksie op dit wat hulle ontvang, nie anders kan as om terug te gee nie. Dis ’n ongeskrewe reël.

Ek hoor in die Covid-19-tyd hoe ’n ou oom moes gaan vir toetse. Soos hy uitstap, vra hy die verpleegster of sy nie weet waar hy toiletpapier kan koop nie, want die supermarkte in sy omgewing het geen voorraad meer nie.

Daardie aand daag die verpleegster en haar vriendin by die oom en tannie se voordeur op met ’n sak vol toiletpapier. Hulle was by tien winkels voordat hulle toiletpapier in die hande kon kry.

Hulle het toiletpapier afgelewer en is daar weg. Hulle wou geen betaling daarvoor aanvaar nie.

Hierdie eenvoudige daad vertel iets van verpleegsters wat self baie ontvang het en daarom hulleself nie kon keer om die bak vol te maak en aan te stuur vir ander in nood nie.

Hier by my kom daar gedurig ’n bak aan. Ek het goed pyn in my tande en ek besef na aanleiding van ’n vorige besoek by die tandarts, dat ’n ordentlike wortelkanaal die volgende stap is. Ek maak sommer ’n lang afspraak.

Soos ek instap, sê ek vir die tandarts dat ek weet hierdie gaan hom kos. Hy moet asseblief sê hoeveel ek kan bydra. Almal het swaar getrek in die Covid-19-tyd. Sy woorde: “Nee, ek ontvang so baie. Ek wil dit graag vir jou gratis doen. Dit is soos pay it forward, of so iets …”.

Die tandarts se ontvangbakkie wat hy hier teruggee, is ook vol.

En wanneer ons die bakkie vol aangee na die mense om ons wat dit so nodig het, is daar nog goeie nuus. God onthou elkeen van die dade. Nie dat ons dit doen om gesien te word nie. Ons doen dit mos maar net uit dankbaarheid.

Kom ons wees altyd gereed. Kom ons sit in afwagting om plekkies raak te sien waar ons een van die bakkies wat ons ontvang het, kan volmaak en gaan uitdeel aan die wat dit so nodig het.

Teks
Hebreërs 6:9-11

Om oor na te dink
Doen jy iets vir ander?
Doen jy dit uit liefde?
Waar kan jy meer doen?

Gebed
Vader, ons bakke is altyd vol. Ons ontvang so baie van U af. Daagliks. Help ons om plekke raak te sien waar U vir ander wil gee. Help ons om U vol bakke daar te gaan aflaai. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek