God se Woord in vandag se woorde

Volg en lei – nie een maklik nie


Efesiërs  5:21-33

Oom Angus Buchan fokus op die mans. Hy hou groot byeenkomste vir duisende mans en orals is die boodskap dieselfde: Mans moet weer die hoofskap van die huis oorneem. Ek weet nie waar dit fout gegaan het nie, maar dit lyk vir my of mans nie meer voor stap as dit by die geestelike kant van die gesin kom nie. Jaar na jaar dui die statistieke van Kruispad gebruikers presies dieselfde boodskap: Meer as twee derdes van die lesers is vrouens.

Hier in Paulus se beknopte huweliksverrykingskursus stel hy voor dat die vrou die leiding van die man sal aanvaar: 22Laat ek eers met die vroue praat. Jy moet die leiding van jou man aanvaar soos ons die leiding van die Here aanvaar. Die vraag is egter hoe kan ons verwag dat vrouens agter ’n leier aanstap wat nie lei nie?

Ons almal stap graag agter ’n goeie leier aan. Die teenoorgestelde is ook waar. As die land nie ’n goeie leier het nie, stap niemand agter hom of haar aan nie. Gou lyk die land nie lekker nie en almal is ongelukkig. Kerke loop leeg as die leiers droogmaak. Huwelike val uitmekaar as die leier nie lei nie.

Ek wil eintlik, anders as Paulus, by die mans begin – by myself begin. Mans moet rolmodelle wees. Ons moet voor stap. Ons moet die voorbeeld wees wat ons vrouens en ons kinders kan navolg. Ons woorde en ons dade moet in lyn wees met die Woord van God. Die samelewing daar buite lyk nie te goed nie en met ’n skok besef ek dit het te doen met ons mans wat nie lei nie. Ons het ’n bietjie vergeet dat die lewe nie gaan oor werk en nog werk en nog ’n trappie op die leer klim nie. Ja, daar is niks daarmee verkeerd om te droom en jouself op te werk na hoër hoogtes nie, solank dit net nie ten koste van ons leiersposisie is nie.

Ons kan nie lei as ons afwesig is nie. Ons kan nie soos ’n seemeeu elke nou en dan invlieg, ’n paar bevele uitskree en weer voortvlieg nie. Ons moet besef dat ons elkeen geroep word om ordentlike leiers in ons verhoudings, by die huis en by die werk te wees: 23Die man moet die leiding oor sy vrou neem soos Christus die leiding in sy kerk neem. Wanneer mans so lei, deur na Jesus se voorbeeld te kyk, wil ander volg. Ja, dan verdien ’n mens jou posisie as leier en stap die volgelinge graag agterna.

Dan is dit maklik vir vrouens om te volg. Dan wil hulle volg en word dit sigbaar in hulle dade. Dan is dit vir vrouens lekker om spesiale dinge vir hulle eggenote te doen. Dan bars ’n klomp positiewe energie los wat die leier na nog hoër hoogtes neem.

En so maklik word die leierskap omgedraai in ’n magstryd, waar een of albei van die partye die leiding wil neem ten koste van die ander een. Die leier kry mos nou spesiale perks. Dis ongelukkig ’n skewe prentjie wat die wêreld geskep het en wat eintlik net meer verwoesting saai.

Jesus het nie vir Homself geleef nie. Hy het nie gekyk wat Hy alles vir Homself kan bymekaarmaak nie. Inteendeel! Hy het alles gedoen vir die ander en ten koste van Homself. Dit is die voorbeeld van ’n goeie leier.

Kom ons gryp die uitdaging met albei hande aan. Kom ons word ’n leier waaragter ander wil aanstap. Kom ons word soos Jesus en dien, want dan verdien ons om saam te dien…

Om oor na te dink

Wil ander agter jou aanstap?

Dien jy?

Volg jy?

Gebed

Vader, U het ons kom wys hoe om die lewe reg te leef. Ons sukkel. Ons sukkel om te lei en ons sukkel om te volg. Eintlik is die prentjie nie baie mooi nie. Net U Gees kan ons help. Help ons Vader. Help ons tog! Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek