Volhard op die regte pad
Daar is mense wie sê dat dit maklik is om tussen die lyne te leef en nooit oor die grense te foeter nie. Aan die een kant bewonder ek hulle, maar aan die ander kant wonder ek of hulle eerlik met hulleself is. Vir my is dit nie maklik om elke oomblik van die dag in die middel van die pad te stap nie.
Dis vir my moeilik om net bloot gelate te sit as iemand hier voor my indruk. Dis soos ’n knoppie wat net gedruk word en voor ek my kom kry, het ek alreeds ’n paar dinge gesê of gedink.
So het ons almal, of die meeste van ons, ’n flaw. Sommige van ons het meer as net een.
- Dalk is dit jou tong wat sommer net dinge sê en daarmee verwoesting saai.
- Dalk is dit jou oë wat die goetertjies agter die skerms nie kan uitlos nie.
- Dalk is dit jou keel wat te veel inlaat.
- Dalk is dit jou hand wat op verkeerde plekke vroetel.
- Dalk is dit jou vingers wat dinge vat wat nie eintlik joune is nie.
- Miskien is dit jou brein wat verkeerd dink.
- Miskien is dit jou gedagtes wat jou mislei en van die waarheid weglei.
- Dalk is dit jou voete wat jou op verkeerde paaie neem.
- Dalk is dit …
Kom ons wees eerlik met mekaar en sê dat ons almal sukkel om op alle terreine binne die grense te bly. Eintlik wil ek sê dit is menslik. Omdat ons mense is, is daar ’n groot kans dat ons een of ander tyd of gereeld die grense gaan toets. En ja, soms gaan ons daaroor glip.
Nou dat ons weet dat die grootste gros van ons met ietsie sukkel, moet ons ook vir mekaar sê dat dit nie ’n rede is om op daardie verkeerde pad aan te hou speel nie. Om dit te erken is die eerste stap, maar die tweede stap is om daaruit te kom. Ons moet bewustelik planne maak om weer terug op die regte pad te kom.
Dit is soos Paulus vir Titus voorskryf. 2… volhard op die regte pad.
Volhard kan vertaal word met hard probeer, want dit is eenvoudig nie maklik om vandag op alle terreine op die regte pad te bly nie. Daar is soveel versoekings. Daar is soveel afdraaipaaie wat ons kan vat. Die ergste van alles is dat ons nie eens altyd weet dat ons ’n verkeerde pad vat nie. Dit lyk alles so mooi en so reg.
En wanneer mense so in die algemeen praat oor dinge wat nie reg is nie, pop die verkeerde ding of dinge mos altyd in ’n mens se kop op. Jy sien, ons weet wat is reg en verkeerd. Dis deel van ons DNA. Daarom dat die verkeerde wat ons doen, sommer vanself so in ons gedagtes op pop. Soos nou weer …
Kom ons probeer ons bes om altyd op die regte pad te loop. Kom ons erken ons foute en kom ons erken ook ons onvermoë om reg te stel. Daarom, kom ons kry versterkings in. Kom ons bid, maar meer nog, kom ons kry ander om ons op die regte pad te help stap.
Teks
Tit 2:1-5
Om oor na te dink
Wat lok jou van die pad af?
Wat kan jy doen om hiervan ontslae te raak?
Hoe kan jy op die regte pad volhard?
Gebed
Here, U ken my gesukkel. U weet ek wil nie, maar ek trap kort-kort in die gat. Help my om van die verkeerde pad te beur en op die regte pad voluit te stap. Amen.