Volpunte vir integriteit
Die lysie van die vorige skryfstuk oor integriteit smokkel met my kop. Ek moet dit weer deurlees.
-
- Hulle is eerlik.
- Hulle is opreg.
- Hulle het waardering vir mense.
- Hulle het respek vir ander mense se tyd.
- Hulle misbruik mense nie.
- Hulle hanteer konflik beskaafd.
- Hulle is op ander mense se gevoelens ingestel.
- Hulle weet hoe om jammer te sê.
- Hulle is nederig.
- Hulle doen goed waar hulle kan.
Dit sing deur my kop: eerlik, opreg, respek, nederig. Waardeer mense, sien hul gevoelens raak en misbruik hulle nie. Konflik begrawe hulle nie, want hulle weet dit sal nie op daardie manier verdwyn nie. Hulle sê maklik jammer en soek gedurig plekkies om goed te doen.
Ek gaan weer terug na die lys en begin vir my vir elkeen ’n punt uit 10 uitgee. Ek voel nie te sleg nie, want vir die meeste van hulle gee ek myself ’n 8 of ’n 9, en as ek dit vergelyk met my punte op skool is dit briljant.
Maar al cum ek die vraelys is dit nog steeds nie goed genoeg nie. Jy sien, integriteit word eers regtig integriteit as jy volpunte kry. Eerlikheid raak eers eerlikheid as ons in alles eerlik is. Selfs net ’n witleuntjie trek ’n streep deur eerlikheid.
As jy so lekker kry terwyl jy jou storie in alle detail vertel, het jy dalk gedink dat die hoorder haastig is en nie nou eintlik tyd het nie?
Hulle sê ek is so goed vir ander, maar as daar ’n ander agenda is, haal dit nie dalk opregtheid uit die prentjie nie?
Ek val uit die bus as integriteit wys na konflik wat beskaafd opgelos word. Soms kan ek net nie keer nie en as ek my weer kom kry, lê daar ’n lyk of twee as gevolg van my woorde.
Ek wens ek kan goed doen oral waar ek gaan, maar ai, die eie ek kom beur gedurig hier tussenin.
En so kan ek aangaan. Ons is maar vol duike en stote en ja, dis menslik. Maar ek besef ons moet dit nie as verskoning gebruik nie. Nee, ons moet dit juis as aansporing gebruik om volgende keer beter te doen en as ons val, eenvoudig net weer op te staan en weer te probeer.
Ons moet Jesus se voorbeeld in alles volg. Ons moet die Heilige Gees vra om ons te help. Eintlik moet ons Hom vra om ons stil te maak, sodat ons Sy sagter stem kan hoor daar waar ons die harde stryd voer.
Dan sal die uiteinde positief wees. 8Maak God se wil op die regte manier bekend. Tree altyd met integriteit op. As jy sorg dat alles wat jy sê in ooreenstemming is met God se wil, sal selfs jou vyande niks leliks teen ons geloof kan sê nie.
As integriteit deel is van ons daaglikse lewenspatroon, kan en sal God se Naam verheerlik word en is daar net al die pad wenners.
Teks
Tit 2:6-8
Om oor na te dink
Wat sê ander mense van ons geloof as gevolg van jou?
Hoe dik loop integriteit in jou dade?
Waar moet jy meer konsentreer?
Gebed
Vader, ek het altyd gedink ek het integriteit, en nou is ek nie meer so seker nie. Help my om nie volgens die omstandighede onderhandelbaar te wees hieroor nie. In Jesus se Naam. Amen.