Voor in die koor vir Jesus
Paulus staan oopmond en verwonderd oor hoe God hom gebruik. Hy wat eers op die verwoestingspad was om elke Christen agter die bos uit te snuffel en van kant te maak. Hy was bloeddorstig, man. Hy kon Christene nie voor sy oë verdra nie en hy het genot daaruit geput om hulle een vir een van kant te maak.
En toe loop hy homself in Jesus vas, daar op die pad na Damaskus. En wanneer jy in Jesus vasloop, kom jou (wêreldse) wiele af. Op daardie oomblik verander jou lewe handomkeer. Ek wonder wat het Paulus se vriende gesê? Daar waar hulle naweke om die braaivleisvuur gestaan het, dalk met ietsie in die hand terwyl Paulus die een storie na die ander vertel van hoe hy die hoop Christene eiehandig afgemaai het. En nou is hy ewe skielik heeltemal anders. Sag, vol vrede en geluk en sy storie is totaal en al omgedraai. Vir hulle is dit onverstaanbaar.
Vir Paulus ook: 9As dit by die apostels van die Here kom, staan ek agter in die ry. Eintlik behoort ek nie eens in daardie ry te staan nie, want kyk net hoe het ek die mense van God vroeër vervolg en probeer seermaak. 10Maar God was wonderlik goed vir my, wat ek natuurlik geensins verdien het nie. Hy het my gemaak wat ek nou is. Hierdie goedheid van God was nie alles vir niks nie. Ek het harder en meer vir die Here gewerk as enige ander een. Dit was nie ek wat so goed was nie, maar die Here wat so goed vir my was. Hy het deur my gewerk. 11Eintlik maak dit nie saak wie die werk doen nie, solank dit net gedoen word. Of dit nou ek is of die ander apostels, ons het dieselfde goeie nuus vir julle kom vertel en julle het dit julle eie gemaak.
Paulus staan oopmond en kyk na sy eie storie. Dit is vir hom eintlik onverstaanbaar dat God nou juis vir hom uitgekies het om voltyds vir Hom te werk. Eintlik verdien hy om reg agter in die ry te staan. Eintlik verdien hy die dood, want hy het eenvoudig net te veel bloed op sy hande. Tog sien hy wat Paulus is die wonder van God in sy lewe raak. Hy voel dit aan sy eie bas. Waar hy eintlik nie eens in die ry moet staan nie, staan hy nou voor in die koor.
Net so wil God vir jou ook gebruik. Maak nie saak waar jy al gedraai het nie. Maak nie saak wat jy al aangevang het nie. Maak nie saak op watter verkeerde paaie jy al geloop het nie, God het ’n plan vir jou lewe. God wil jou gebruik. Hy wil jou juis daar gebruik waar jou pad al orals geloop het, want jy ken die wêreld daar. Jy ken die mense se taal. Jy ken hulle manier van doen. Hulle ken jou. Hulle vertrou jou. Daarom is jy juis die regte persoon om daar vir God te werk.
Dalk staan jy nou net so verbaas soos Paulus en wonder hoe God dit regkry om met ’n krom stok soos jy en Paulus ’n reguit hou te slaan. Maar as Hy die Christen- moordenaar so kragtig kan gebruik, is niks vir Hom onmoontlik nie. Onthou: Dis nie uit jou eie krag nie. Paulus het nie uit sy eie krag daar gestaan nie. Dis God wat alles in en deur hom gedoen het.
Ek hoop ons almal kan eendag saam met Paulus staan en terugkyk oor ons lewe en ons kop skud en wonder hoe God dit reggekry het om via ons ’n verskil in die wêreld te maak.
Om oor na te dink
Glo jy dat God jou wil gebruik?
Glo jy dat God deur jou ’n verskil wil maak daar waar jy lewe?
Waar moet jy begin?
Gebed
Here, U het so wonderlik met Paulus gewerk. Ek weet dat as U dit met hom kon regkry, U dit ook met my kan doen. Ek is egter bang. Sê nou maar net ek maak dit nie? Sê nou maar net die mense lag vir my. Here, U hoor my onsekerheid. Eintlik is ek bang. Daarom vra ek dat U met U Gees in my sal woel, want ek wil graag hê dat U ook vir my moet gebruik sodat U naam verheerlik kan word. Amen