God se Woord in vandag se woorde

Vra die vraag anders


Ek worstel gereeld met die vraag: “Why do bad things happen to good people?” Ongelukkig bly die antwoord my ontglip en my verstand is te stadig om op te vang. Tog weet ek uit ondervinding dat ons as Christene nie die slegte en swaar dinge vryspring nie.

Daarom dat ek eerder die vraag weglei van die rede vir die swaarkry na hoe ek moet maak met die swaar.

Ek leer baie by Oom Gerrit. Hy skryf vir my in reaksie op ’n storie wat ek geskryf het van ’n vriend wie se dogter deur ‘n erge moeilike tyd gaan. Hy vertel:

In 1974 het ek my linkerbeen net onder die knie verloor, as gevolg van ‘n werksongeluk. Ons het net die Vrydag voor die ongeluk ons dogter aangeneem.

Toe ek na die operasie by my positiewe kom, sien dat ek nou net een en ‘n halwe been oor het. Baie negatiewe gedagtes het deur my kop gegaan en Satan het die gap gesien om my verder in ’n swart gat te laat afsak.

Gelukkig met genade van Bo, kon ek my oë net daar toemaak en tot my hemelse Vader bid en vra vir hulp, want nou is ek ’n kreupele – so het ek gedink.

Ek sal nooit my gebed vergeet nie. Dit was soos volg: “Vader, gee my die krag en genade om dit te aanvaar soos dit is en maak van my die mens wat ek was.”

Ek het nie vir beter gevra nie en al die jare gaan dit net goed met my. Ons het ook later ‘n seun aangeneem. Altwee my kinders is al grootmense in hul 40’s.

Sê asseblief vir jou vriend, hy moet vir sy dogter sê om nooit Jesus se hand te los nie en om aan te hou glo Hy sal haar help. Ek waarborg dit. Hy het my nog nooit ge-drop nie.

Ek is nou al 73 jaar oud en nog steeds in die tuig. Hierdie oom wie sy nie ken nie, sal vir haar bid.

Dis hoe ons die swaar by die horings moet pak, saam met Jesus. Hy sal ons krag gee. Die Heilige Gees sal saam met ons stap en ons wysheid gee. Dan sal ons selfs kan glimlag as dit moeilik gaan, want ons weet Wie ons basis is. Ons weet Wie die wind onder ons vlerke gaan wees. Ons weet Wie ons backup is en dat Hy sterk genoeg is vir enige slegte ding wat dalk oor ons pad gestorm gaan kom.

34Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie.

En te midde van sy swaar, bied oom Gerrit aan om te bid, want Hy weet van die ondersteuningstelsel, maar meer nog, hy weet sy beloning kom eendag. Daarop fokus hy. Daarom maak baie dinge sin, al het ons nie ’n antwoord op die vraag, “Why do bad things happen to good people?” nie.

Teks
Hebreërs 10:31-39

Om oor na te dink
Waar trek jy swaar?
Waar kan jy ander help wat swaar trek?
Wat moet jy maak om te glimlag?

Gebed
Vader God, ek sukkel om te glimlag deur die swaar tye. Ek sukkel om ander te help. Vergewe my en help my met U Gees om anders te kyk na die swaar om my. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek