Vrede en vreugde by jou werk
Die meeste van ’n mens se wakkertyd is jy by jou werk. Die plek waar jy werk, die mense wat saam met jou werk, die mense vir wie jy werk, het ’n groot invloed op jou. Kyk ’n bietjie hoe lyk jy as jy by die huis kom en nie ’n goeie dag by die werk gehad het nie. Jou gemoedstoestand is tussen die vloer en die politoer en die res moet maar net verbykom.
Daarom het ons ’n groot verantwoordelikheid om seker te maak dat die werksomstandighede waarin ons so baie van ons tyd bestee, ’n goeie omgewing is. As dit toksies is, moet jy ’n plan maak. Makliker gesê as gedaan.
’n Vriendin van my het oor die 30 jaar by ’n vooraanstaande wêreldwye maatskappy gewerk. Hulle stel toe ’n bestuurder aan wat daarop uit was om ander mense se dag hel te maak. My vriendin het al die kanale gevolg om die situasie reg te stel. Maar dit het alles net op dowe ore geval. Sy is “vergiftig” en tot haar gesondheid het later agteruitgegaan. Op die ou end het sy al haar moed bymekaargeskraap en bedank. Dis nogal drasties en eintlik so onregverdig, maar ter wille van haar eie gesondheid kon sy nie anders nie.
Baie keer is ons so in ’n werk vasgeval en hou maar net aan omdat ons nie die moed het om weg te breek en vir ’n nuwe werk te soek nie. Dis egter nie ’n goeie situasie nie, want stuk vir stuk word ons afgebreek.
Hoe is dit moontlik om in sulke omstandighede die volgende opdrag as Christene uit te leef? 9Praat ook met werkers en diensknegte wat vir ’n eienaar werk. Sê vir hulle hulle moet respek vir hulle eienaars hê. Hulle moet al die opdragte uitvoer wat aan hulle gegee word.
Hoe kan jy al die opdragte met ’n lied in jou hart uitvoer as jy nie gelukkig is nie? Dit gaan heeltyd ’n gesukkel wees om te doen wat die een bo jou verwag as die weer bo jou kop bewolk is.
Onthou dat dit ons is wat vir die werk aansoek gedoen het. Ons het vrywillig ingestap en eintlik gevra of ons die werk kan kry. Nou is dit ons verantwoordelikheid om elke opdrag so uit te voer dat dit vir ons én die werkgewer ’n groot aanwins is dat ons daar werk.
Indien jy in ’n posisie is waar dit nie vir jou lekker is om op te staan en werk toe te gaan nie, waar jy omtrent elke aand bewolk by die huis aankom, moet jy vir God vra om jou te help om die situasie te verander. Wees eerlik en sê dat jy nie die opdragte met ’n lied in jou hart kan uitvoer nie en noem sommer ook die redes een vir een op. Skryf dit op ’n papier en vra God om jou te lei om by ’n antwoord uit te kom.
Dalk moet jy iets drasties doen en vir ’n volgende werk begin soek. Dalk moet jy met jou baas gaan praat om te kyk of julle nie die situasie kan aanspreek om die klimaat in die kantoor te verbeter nie. Dalk moet jy daardie droom van jou eie ding doen, nou by die horings gryp, oor die angs kom en doen soos God jou sê om te doen.
Onthou, God is met Sy Gees by jou. God wil jou help. Tree vir tree. Ek is seker daarvan dat God vir ons die goeie wil hê, Hy is mos die Goeie Vader. Maak Hom deel van jou daaglikse besluite en vra Sy leiding en stap agter Hom aan. Dis waar die vreugde en vrede lê.
Teks
Tit 2:9-10
Om oor na te dink
Is jy werklik gelukkig waar jy werk?
Is dit die plek waar die Here wil hê jy moet werk?
Of is daar iets anders wat jy moet ondersoek?
Gebed
Here, ek weet daar moet veranderinge gemaak word, maar die vrees verlam my! Dankie dat ek kan weet dat U reg aan my sy is. Gee my asseblief wysheid oor wat ek moet sê en doen. Amen.