Vrede en vreugde na die glip-en-gly – Romeine 5:6-11
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 5:6-11
Sonde is deel van ons mense se bestaan, al van Adam en Eva se dae af. Dit is deel van ons DNA en voor ons ons kom kry, het ons daarin getrap. Ons probeer ons bes, maar net om die volgende draai is dit weer so. En dan voel ons sleg en amper te skaam om weer voor God te gaan staan, want ons weet ons het dit al weer nie gemaak nie. Al weer die toets gedop.
Dit is soos iemand wat wil ophou rook en die laaste paar sigarette in die pakkie so stukkie vir stukkie breek en belowe dat hy of sy nooit weer sal rook nie. Net om later in ’n onbewaakte oomblik by die kafee in te stap en een losse te gaan koop. Dan is alles oor en plons ons weer in die modder rond.
It just happens.
En sommige kere is die pakke sonde en skuld wat ons agter ons aansleep so swaar dat dit al die vreugde en vrede uit ons lewens druk. Ons voel sleg. Ons voel of ons dit nie maak nie. Ons voel of ons almal net die heeltyd teleurstel. Ons voel soos een groot mislukking.
Gelukkig glo ons in ’n God wat oorloop van liefde en wie nie ophou planne maak om ons te help met die kere wat ons glip en gly nie. God en Jesus en hulle Gees het koppe bymekaargesit om die grootste en beste plan uit te dink om ons mense wat so glip-en-gly en graag in die modder speel, te help.
Die plan is in werking gestel: 6Christus het op presies die regte tydstip vir ons gesterf. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer toe ons nog in die sonde rondgelê het… 8… Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was.
Dit is vir my die beste nuus. Ek wil op my huis se dak staan en dit aan die wêreld skree. My God is so groot en loop so oor van liefde dat Hy bereid is om te sterf vir my modder spelery, sodat ek nie daarvoor pak moet vat nie. Ja, Hy sterf in my plek. Hy sterf die dood wat ek eintlik moes sterf. Die dood wat ek met my sonde verdien, het Hy uit my hande kom neem en self gesterf aan ’n hout kruis.
Wil jy nie weer jou bagasie by God gaan los nie? Dit is so onnodig om swaar te sleep aan al die kere wat jy geglip-en-gly het. Jesus het klaar daarvoor gesterf. Hy het klaar die skuld daarvoor betaal. Jy moet dit nou self aan die voet van die kruis gaan sit deur dit een vir een te bely.
En dan sal jy weer vrede hê. Dan sal jy weer die wêreld in die oë kan kyk. 11Daar is selfs nog meer rede om fees te vier: ons kan nou al dag vir dag in blydskap voor God leef. Dit is net aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur sy dood het Hy gesorg dat ons saak met God reg is.
Kom nou. Maak die lewensveranderende gebeurtenis weer deel van jou lewe. Sê die boodskap oor en oor in jou kop en gaan leef dit. Gaan leef ’n vry lewe en drink weer die vrede en vreugde van God se liefde.
Dan sal die lewe anders wees.
Om oor na te dink
Hoe swaar is jou sak sondes?
Glo jy dat Jesus daarvoor gesterf het?
Glo jy dit regtig?