God se Woord in vandag se woorde

Vrede in jou skaduwee


Jakobus het vir ons op ’n eenvoudige manier kom wys wat wysheid beteken. Maar nou, met die laaste vers, kom gooi hy ’n bom. Die 1933-vertaling vertaal dit so: 18En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.

As ’n mens dit ’n paar keer lees, maak dit nog steeds nie sin nie. Dalk moet ons die vers van agter af lees. Die vredemakers moet vrede saai en die vrugte daarvan, die gevolge van die vrede saai, is geregtigheid.

Geregtigheid is self ’n woord wat ek nie heeltemal verstaan het nie en eers moes gaan uitvis wat dit beteken. Maar eintlik beteken dit net dat ons reg in God se oë lewe; dat ons dade vir God aanneemlik sal wees.

So eintlik is Jakobus besig om vir ons die prentjie te skilder wat hy in sy geestesoog sien. Hy sien mense wat die wêreld ingaan en orals waar hulle gaan sakke en sakke vrede saai. En soos hierdie saad opkom, sien hy ’n groot oes opkom en staan daar velde van geregtigheid, velde van mense wat reg voor God leef.

Nou maak Die Boodskap-vertaling heel sin: 18Dit is belangrik om in vrede met mekaar te leef. Sorg dat waar jy gaan, vrede jou soos ’n skaduwee sal volg. Om in vrede met mekaar te leef is reg en mooi voor God.

Wanneer daar onmin is, wanneer mense op mekaar skree en verskree, wanneer oorlog heers en mense mekaar doodmaak, ja, dalk nie met gewere op mekaar skiet nie, maar met woorde afbreek, is dit nie ’n mooi prentjie nie.

Dan lewe mense nie mooi en reg voor God nie. Dit is nie God se wil nie en daar is nêrens wenners te sien nie.

Die probleem is dat dit ’n prentjie is wat in baie huise om ons geskets word. Dis asof die duiwel presies weet waar om mense te slaan. Dalk is dit die finansies wat mense so laat baklei. Dalk is dit die eie ek wat opstaan en nie vir ander opsy wil staan nie. Dalk het mense net so selfsugtig geraak, dat hulle onvrede moet saai om staande te bly.

Die wêreld het so gewoond geraak aan onvrede, dat dit nou al die norm geraak het. Dis die rede waarom mense nie meer gelukkig is nie en gebukkend probeer voortstoei om net aan die lewe te bly, met geen sien van vreugde nie.

Eintlik skree die hele wêreld kliphard uit: “Ons soek vrede! Ons soek vredemakers! Ons soek vredemakers wat vrede saai!”. En ons wat kinders van God is, kwalifiseer outomaties vir hierdie posisie.

Ons is elkeen geroep om vredemakers te wees. Ons moet in die huise waar dit so rof gaan, ingaan en God se vrede saai. Ons moet die mense uitmekaar gaan haal. Ons moet hulle wys wat hulle doen en ons moet hulle wys wat hulle mis.

Kom ons maak seker dat vrede ons soos ’n skaduwee volg, want dan sal daar ’n groot oes wees. Orals sal mense reg voor God lewe en dis vir God so mooi. Hier in die vrede is ware vreugde te vind.

Teks
Jakobus 3:13-18

Om oor na te dink
Waar heers onvrede?
Waar moet jy vrede saai?
Hoe gaan jy vrede daar saai?

Gebed
Vader, ek weet ek is geroep om vrede te saai. Ek is egter huiwerig, want soms wonder ek wie is ek nou eintlik. Help my om my roeping hier na te kom en vrede te saai, orals waar ek gaan. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek