God se Woord in vandag se woorde

Vrede in onvrede


Filippense 4:10-20

Paulus het al aan albei kante van die lewe geleef. Hy het al genoeg gehad dat dit eintlik te veel is. Hy het egter ook al te min gehad, eintlik niks nie: 12Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê.

Vir baie van ons klink dit heel bekend. Veral die gedeelte waar ons swaarkry en op baie terreine van ons lewe te min het. Soms boul die lewe die een curve ball na die ander en dan wonder ons hoe lank ons dit nog kan uithou. Paulus weet ook hiervan. Daar was dae toe dit erg swaar gegaan het. Maar ondervinding het vir hom ’n paar groot lesse geleer: 11… Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie.

Uit ondervinding het Paulus geleer dat dit soms nie nodig is om teen alles op te staan en te stoei dat die stof so staan nie. Soms word daar van ons verwag om vrede te maak met dit wat na ons kant toe kom en daarmee saam te leef.

Tog dink ek nie dat Paulus voorstel dat ons nie mag droom nie. Nee, ons kan droom en hoop en strewe na meer. Ons kan reik na die sterre, maar soms raak ons so obsessief oor ons omstandighede dat dit al ons krag steel.

Dit is wysheid wat ons leer wanneer om net te aanvaar. Wysheid wys ons wanneer om rustig te wees en wanneer om vorentoe te beur. Paulus verstaan die wysheid baie mooi: 12… Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ookal tref.

Maar ons kry dit nie altyd reg soos Paulus nie. As dit ’n bietjie swaar gaan, soek ons gou na ’n speelding om uit die cot te gooi. Ons kyk na ander wat lyk asof hulle alles het en dan wil ons nie verstaan hoekom ons so moet stoei nie. Ons raak gou mismoedig.

Ai, ek wens ons kan dieselfde ingesteldheid as Paulus hê. Paulus het al genoeg van die oppe en affe van die lewe ervaar. As hy so terugkyk na sy lewe besef hy dat dit nie veel help om te stress nie. Hy besef dat stress niks kan doen aan die probleem nie. Inteendeel! Stress tap net energie en maak ’n mens moeg. Dit verkort selfs jou lewe.

Uit ondervinding het Paulus geleer dat die situasie waarin hy nou is, op die ou end ook sal uitwerk. Ja, dalk nie soos hy gedink het dit sal uitwerk nie. Maar wanneer hy terugkyk kan hy sien hoe God selfs daardie omstandighede waarin hy was, gebruik het. Soms moes hy iets daaruit leer. Ander kere was dit weer ander wat daardeur geraak en verander moes word.

Ek besef dat ons rustiger moet raak oor die omstandighede waarin ons is. Ons moet weet en vertrou dat God dit op die ou end ten goede sal laat meewerk. Ons moet wysheid hê om met rustigheid en tevredenheid na vore te beur en te weet en vertrou dat God ons sal help. Laat ons die energie wat ons gewoonlik gebruik om ’n stofwolk op te skop eerder gebruik om in lyn te kom met God se prentjie en so ’n groter verskil in die wêreld te maak.

Sterkte!

Om oor na te dink

In watter omstandighede is jy wat nie vir jou lekker is nie?

Wat doen die omstandighede aan jou?

Kan jy rustig raak daaroor?

Gebed

Onse God, ek moet bieg dat dit nie vir my maklik is om alles net so te aanvaar nie. Daar is soveel dinge waaroor ek nie kan vrede kry nie. Gee asseblief vir my wysheid om die groter prentjie te sien. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek