Vreemdeling in die vreemde
Ek sê altyd vir my kinders dat hulle moet werk waar hulle drome en gawes is. Die meeste van jou wakker tyd, is jy by die werk. As jou werk ’n geswoeg is, swoeg die lewe. As jy egter die werk kan doen waarvoor jy hier op die aarde geplaas is, is dit ’n fees.
Ek is bevoorreg om my droom te leef. Ek kan my gawes gebruik om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Dit gee my soveel energie. Die gevaar is dat ’n mens dan te veel kan werk. Jy raak amper verslaaf daaraan. Ek werk daaraan …
Deel van my droom is dat ek en my vrou deur ons land kan toer om preke op te neem vir ons YouTube kanaal, Kruispad247TV. Ons probeer gewoonlik die omgewing waar die boodskap opgeneem word, só te kies dat dit aanpas by die inhoud van die boodskap. Dit help gewoonlik om die teks nog beter te verstaan en te onthou, veral vir mense wat sukkel om te konsentreer, soos ek.
Aan die begin van 2023 het ek en Renata vir drie weke deur Israel getoer en 14 preke opgeneem. Dis ’n wonderlike land en ‘n groot voorreg om te kon sien waar Jesus geloop het. Die meeste Jode was maar effens stram en daar was nie tyd en plek vir grappies op die bus nie.
Dinge is anders daar. Om so aan die ander kant van die pad te ry, is nie maklik nie en jy moet heeltyd konsentreer om aan die verkeerde kant van die pad te bly. Veral by die sirkels kan dit soms sukkel.
Die kosse wat hulle eet, is nie heeltemal my smaak nie. En hulle vleis is onbekostigbaar duur. Daar’s nie eens ’n braaitjie vir pappa nie. Vrydagmiddag maak die hele land toe, so asof iemand die ligte afgeskakel het. So mis ons een Vrydagmiddag die laaste bus en moes ons vir langer as ’n uur stap om by die huis te kom.
Dis vreemd vir ons. Toeriste is nie gewoond aan hulle manier van doen nie. Ons weet nie wat om waar te kry nie. Ons sukkel om die regte bus te kry. Ons sukkel met die taal. Ons sukkel om die regte prys te betaal vir die geskenkies wat ons wil huis toe bring.
Dan besef ’n mens maar net weer hoe lekker ons eie land en sy mense is. Hier ken ons alles. Ons weet hoe om te ry en waar om iets teen die regte prys te koop. Ons vriende is hier. Ons kinders is hier. Ons familie is hier. Ons hoort hier.
Eintlik is die wêreld nie Christene se tuiskom plek nie. Hierdie wêreld is net tydelik. Dis eintlik ’n tentwoning wat een of ander tyd opgepak gaan word wanneer ons na ’n ander wêreld gaan verhuis.
11My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier.
Ek moet bieg dat ek dit soms vergeet. Ek geniet die werk wat ek doen. Ek geniet ons land. Ek geniet my vriende en familie só baie dat ek nie soos ‘n vreemdeling op hierdie aarde voel nie.
Daardie vreemdheid wat ek in Israel ervaar het, ervaar ek nie hier nie. Inteendeel! Hiermee is niks verkeerd nie, solank ons net onthou dat ons ware plek van hoort nie op hierdie aarde is nie.
By wyse van spreuke, laat ons fokus op die lewe in die wolke en nie te geheg raak aan die lewe hier op aarde nie. Dis net tydelik, maar die huis met die ware fees wat vir altyd gaan aanhou, lê nog om die draai.
Teks
1 Petrus 2:9-12
Om oor na te dink
Wat hou jou in die lewe vas?
Wat gee jou energie?
Hoe kan jy fokus op jou nuwe woning?
Gebed
Ons Here, dankie dat U ons nuwe woning vir ons voorberei het. Ek wil gaan. Ek sien uit daarna. Amen.