Vriende-van-God-groepie
Dit is eintlik ongelooflik om te sien hoe tegnologie ons lewens verander het. Sommige daarvan is nie so goed nie, maar sommige toeps het ons wêrelde net soveel groter en beter gemaak.
Neem nou maar vir WhatsApp. Inligting vlieg heen en weer en ons is dadelik op hoogte van wat in die wêreld aangaan. Daar is nie meer grense nie en geen afstand te groot om te weet wat in geliefdes se lewe aangaan nie.
Ek het ’n horde groepe op my foon. Dis die gesin- en my broer-en-suster-groep. Dis my skool-tjommies (ons kom al van laerskooldae saam!) en rugby-kyk-tjommies en dan al die verskillende groepe in ons bediening.
Daar is ’n rede waarom ek deel is van elke groepie. Ek is deel van die rugby-kyk-groepie, omdat ons vriende altyd ’n rede soek om êrens saam rugby te kyk. So, as ons te hore kom van ’n opkomende wedstryd, sing die foon gou met reëlings vir waar ons dit gaan kyk.
Op die skool-tjommies-groep vlieg daar al te gereeld ’n grap of ’n snaakse video in. My vriende weet ek maak my oë toe as ek ’n slang sien, daarom stuur hulle gereeld ’n video van ’n vergrote slang om my te terg.
Wat ek egter besef het, is dat ’n mens op ’n manier kwalifiseer om aan ’n groep te behoort. As ek nie meer saam met die rugby-kyk-groepie moeite doen om saam rugby te gaan kyk nie, kan ek my status as rugby-kyk-tjommie verloor en kan ek uit die groep geskop word.
As ek nie deel aan die grappies op die skool-tjommie-groep en ook na die braais toe gaan nie, kan ek gediskwalifiseer word en ook uit die groep geskop word.
Elkeen moet sorg dat daardie unieke karaktereienskap wat ’n mens tot die groep ingelaat het, lewendig bly. So is my familie bitter ernstig dat almal aktief sal wees, al is dit net ’n duimpie-in-die-lig-prentjie. Hulle vat jou sommer aan as jy nie betrokke genoeg is nie.
Ons weet nou soveel meer wat in mekaar se lewens aangaan as in die verlede en dit maak dat ons nader aan mekaar bly.
Net so is ons wat glo, almal ook deel van die vriende-van-Jesus-groep. Wanneer ons kinders van God word, word ons outomaties deel van hierdie groep. En soos in ons WhatsApp-groepe, is daar sekere vereistes om deel van die groep te bly. En dis eintlik baie eenvoudig:
17So is dit ook met jou verhouding met God. Om te sê jy is vriende met God, maar jy doen niks vir Hom nie, sê eintlik dat die vriendskap tussen jou en God morsdood is. Of dat jy uit die vriende-van-God-groepie geskop gaan word.
Kom ons neem die opdrag ernstig op en behou ons plekkie in die vriende-van-God-groepie en doen, sodat mense dit aan hulle lyf ervaar en ook begin smag om aan dieselfde groepie te behoort.
Teks
Jakobus 2:14-26
Om oor na te dink
Is jy deel van God-se-vriende-groep?
Is jou lidmaatskap in die weegskaal?
Of doen jy?
Gebed
Vader, vir seker behoort ek aan U vriendegroepie, maar ek besef dat my lidmaatskap soms in die weegskaal is. Ek is baie jammer daaroor! Ek sal my oë oopmaak en begin doen. In Jesus se Naam. Amen.