Vrug van die Gees nie ’n opsie
Ons het nou stap vir stap deur die vrug van die Gees gestap. Met ’n flitsie in ons eie lewe het ons gesien dat daar baie werk te doen is. Daar was seker tye wat jy soos ek jou kop in skaamte laat sak het en besef het jy maak dit nie. Dalk wou jy handdoek ingooi omdat jy nie kans daarvoor sien nie. Maar ongelukkig is dit nie ’n opsie vir ons as kinders van die Here nie. Eintlik is dit ’n opdrag: 24Elkeen wat in Jesus Christus glo, moet so leef.
Die vrug van die Gees is nie ’n opsie wat sommige Christene kies om deel te maak van hulle lewe nie. Nee, dit moet die resultaat, die gevolg van die Heilige Gees wat in ons leef wees.
25Die Gees het ons splinternuut gemaak. Daarom moet ons toelaat dat Hy elke dag ons lewe bestuur. Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen. 26Kom ons hou dadelik op om so baie van onsself te dink. Ons mag nie onder mekaar stry of op mekaar jaloers wees nie.
As daar regtig niks op die TV is nie, sal ek en my seun soms die programme kyk waar die Amerikaanse petrolkoppe stukkende ou motors koop en heeltemal oorbou. ’n Mens kan nie glo dat hulle uit so ’n ou kar weer so ’n pragtig nuwe vuurwa staanmaak nie. Alles wat krom, skeef, geroes en stukkend is, word uitgeruk en met nuwe opgewarmde parte vervang. Groot, blink nuwe mags met dik tekkies word opgesit. Laaste kom die verf wat so blink dat jy jou sonbril moet opsit. Die eienaar val natuurlik van skoene af as hy die nuwe vuurwa sien. Hy kan sy oë nie glo nie. En draai hy die sleutel, dan spring die klomp perde onder die bonnet aan die hol en daar is geen keer nie en trots ry hy met die kar onder sy arm deur die strate en almal geniet die metamorfose van sy kar saam met hom.
En op ’n manier is dit presies wat met ons as Christene gebeur. 25Die Gees het ons splinternuut gemaak. 24… al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker. Jesus het aan die kruis vir al die wat krom, skeef, geroes en stukkend was kom sterf. Die sonde wat ons so vuil gemaak het, het Hy vir ons uit die pad kom haal en saam met die Heilige Gees is God besig om ons te re-vamp. Hulle is besig om ons oor te bou en ’n nuwe lewe te gee.
Maar soos ons in die vorige gedeeltes agtergekom het, is daar nog plekke waar die vrug nie lekker deurslaan nie. Hopelik het ons teen die tyd besef dat dit die tye is wanneer ons die bestuur van ons lewenskar oorneem. Dit is die tye wat die eie ek opstaan. Paulus waarsku ernstig hieroor: 25… Daarom moet ons toelaat dat Hy (die Heilige Gees) elke dag ons lewe bestuur. Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen.
25… Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen. 26Kom ons hou dadelik op om so baie van onsself te dink.
Soms lê die antwoorde vir ons lewens hier reg voor ons. Soms is dit baie meer voor die hand liggend as wat ons dink. Nee, nie altyd maklik om te doen nie, maar kom ons sê dit vir mekaar. God is besig om deur die Heilige Gees ons tjorre oor te doen in indrukwekkende skepsels. Die impak wat dit in die wêreld sal hê, sal vir seker out of this world wees.
Die nuwe skepsels sal vrugte dra waaraan die mense sal smul. Dit sal baie ander mense soveel anders maak.
Hoe lyk mense wat goeie vrugte dra en toelaat dat die Heilige Gees hulle beheer?
· Sulke mense gee baie om vir ander.
· Hulle lewe is vol vreugde.
· Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle.
· Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees.
· Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees.
· Hulle doen goeie dinge vir ander mense.
· Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou.
· Hulle is vol deernis en ontferming.
· Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie.
Mag dit waar word van ons elkeen se lewens….
Teks
Om oor na te dink
Hoeveel ruimte het die Heilige Gees in jou lewe?
Wie is in beheer?
Wat moet jy doen om die Heilige Gees meer beheer te gee?
Gebed
O, Heilige Gees, ek gee oor. Ek gee die volle beheer van my lewe oor aan U. Wat ek self aanpak is die een mislukking na die ander. Op my eie werk dit nie en is die vrugte wat ek dra eenvoudig nie goed genoeg nie. Kom neem U die volle beheer van my lewe oor! Amen