God se Woord in vandag se woorde

Vrugte van die Gees is: Deernis en ontferming


22… Hulle is vol deernis en ontferming

Die Griekse woord vir die voorlaaste vrug van die Gees is praotes. Dit is ’n baie pregnante woord (verskoon die anglisisme, maar die Afrikaanse woord “verwagtend” werk nie lekker nie). Pregnant omdat die woord geboorte skenk aan soveel verskillende betekenisse. Die 1953 en 1983 vertalings het gekies om die woord met nederigheid te vertaal. Die vrug van die Gees is om in alle omstandighede nederig te wees.

Die Boodskap vertaling het praotes met die volgende vertaal: Deernis en ontferming. En tog beteken die woord nog meer. Clark vertaal dit as volg: Mildness, indulgence toward the weak and erring, patient suffering of injuries without feeling a spirit of revenge, an even balance of all tempers and passions, the entire opposite to anger. Ek moes lank hieroor dink om dit te verstaan. Wanneer die Gees in beheer van ons lewe is, word ons aangeraak deur die nood van ander. Ander se seer word ons seer. My oudste sal nooit ’n dokter kan word nie, want sy ervaar fisies pyn as sy ander sien seerkry of ly. Wanneer die Gees in ons vrug dra, sien ons ewe skielik die seer van ander hier om ons raak. Dan beleef ons dit op ’n manier binne-in ons en kan ons nie onaangeraak staan nie.

Praotes vertel ons ook meer van hoe ons aanvalle van buite moet hanteer. Te midde van aanslae van buite kan ons staande bly. Maar meer nog, ons bly staande sonder om plannetjies te maak om die persoon wat ons so onregverdig behandel, terug te kry. Moet ’n vrou aanvaar as haar man haar slaan of moet ’n man toelaat dat sy baas hom voortdurend boelie?

Nee, vir seker nie. Praotes beteken nie dat jy toelaat dat daar op jou getrap word nie. Die beste persoon wat hierdie karaktereienskap uitgeleef het, was Jesus. Jesus het altyd opgestaan vir sy regte en nie toegelaat dat enige iemand op Hom trap nie – of dit nou die koning was of die hoof van die kerk.

Maar ’n passie vir mense in nood het uit sy dade gestraal. Hy kon nie verby iemand stap wat in nood was nie. En Hy het nie net vir hulle gebid en so laat staan nie. Nee, Hy het iets daadwerkliks gedoen. Hy het lammes laat loop, blindes laat sien, siekes genees en ongereddes op die regte pad gehelp.

En die mense wat hom geslaan, gespoeg en gekruisig het? Selfs te midde van erge mishandeling het Jesus geen verraad planne teen hulle opgetrek nie. Hy het geweet dat God hulle sal uitsorteer.

Uit Jesus se lewe op aarde sien ons ook dat Hy altyd in beheer was van sy emosies en dat Hy nooit toegelaat het dat sy humeur se teuels uit sy hande val nie. Al kon Hy dit ’n duisend keer regverdig om hard te praat en vir die ouens vertel waar Dawid die wortels begrawe het, het Hy geweet dit sou nie help nie. Inteendeel – Hy het geweet dat dit net meer skade sou doen. Selfs al was Hy passievol oor mense en sy taak hier op aarde, het Jesus dit nooit as rede gebruik om oor die grense van normale optrede te klim nie.

En as ek so na Jesus en die uitleef van die woord praotes kyk, besef ek net weer dat ek op my eie te lig in die broek is. Selfs die niceste mens op aarde kan dit nie op sy eie regkry nie. Ons het hulp nodig. Elkeen van ons het die hulp van die Heilige Gees nodig.

Met die Heilige Gees aan die stuur sal ons nederig kan wees, maak nie saak hoe goed ons presteer nie. Dan sal mense se nood verlig word en die wêreld ’n beter plek wees.

Teks

Galasiërs 5:13-23

Om oor na te dink

Wat doen ander se seer aan jou?

Wil jy soms geregtigheid in eie hande neem?

Wat verwag Jesus van my en jou?

Gebed

Jesus, U is ons voorbeeld van hoe om oor ander mense te voel. U wys ons hoe om om te gee en onsself tweede te stel. U is ’n voorbeeld van hoe ons ons humeur in toom moet hou wanneer ander ons benadeel. Deernis en ontferming… help my asseblief om daardie vrugte te dra. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek