Vrugte van die Gees is… Gee baie om vir ander
Vir ’n vrugteboom om goeie vrugte te dra, kos harde werk van die boer. Deesdae is boerdery so wetenskaplik dat alles haarfyn beplan word. Die hoeveelheid water en kos word tot op die millimeter uitgewerk. Spuitprogramme word weekliks tot op die nommer uitgevoer. Baie energie word gebruik om te sorg dat die beste vrugte gedra word. Maar wanneer die bome sulke crisp, kraakvars appels dra, plak die boer ’n plakker met sy naam daarop, want hy is trots.
Wanneer dit by die vrug van die Gees kom, geld dieselfde reëls. Ons moet ook hope energie insit om goeie vrugte te dra, want sien, dit kom nie vanself nie. Ons bome gooi te vroeg sulke klein vruggies af nog voordat dit ordentlik gevorm is. Vruggies wat vir niemand bruikbaar is nie. Daarom moet ons bewustelik baie energie insit om seker te maak dat die vrugte wat ons die wêreld indra, voedsaam en sappig is.
Kyk nou rustig na die verskillende vrugte van die Gees. Kom ons leer by ander sodat ons ook goeie vrugte kan dra.
22… Sulke mense gee baie om vir ander.
Melanie en haar dogter is honger:
Ek en my dogter was nou die dag by Steers om aandete vir die gesin te koop. ’n Ou man met verslete klere kom daar ingestap en vra vir almal kos. Hy vra nie geld nie, maar kos. Niemand wou hom help nie. Toe die ou man by ons kom draai, vra ek hom wat hy wil eet. Ek sê hom toe dat hy enige iets van die spyskaart kan kies. Ek sal betaal. My dogter het aangebied om vir hom ’n roomys te koop. Die mense het ons snaaks aangekyk toe ek hom nooi om aan ons tafel te kom sit. Van die mense se opmerkings kan ek nie herhaal nie.
Ons het met die ou man gesels.
Die blydskap op die man se gesig was genoeg vir my.
Toe die man sy kos kry, het hy my uit sy hart bedank. My hart was seer oor my medemense se oordeel wat hulle uitgespreek het. In my slaapkamer sal ek vir my medemens bid sodat hulle oë kan oopgaan om God se genade en liefde te sien.
Allie ly swaar aan depressie:
Ek voel vanoggend presies soos die vriend van jou. Depressie hou my al van 4 uur af wakker. Toe die rooidag breek, begin dit weer warm word in my.
Ek het Sondagaand ’n paar rand in ’n broer van my se rekening gesit, omdat ek op daardie oomblik gevoel het hy het dit nodig. Vanoggend bel hy my vroegoggend en sê vir my hoe groot God is. Daar moes vannag ’n aftrekorder deurgegaan het en was dit nie vir die geld wat ek ingesit het nie was daar probleme.
Toe huil ek van dankbaarheid, want dit was werklik God wat in my gewerk het om dit vir hom te gee. God leef en ek voel soveel beter.
Selfs in tye van eie swaar dra die Gees goeie vrugte deur ons.
Wanneer die Gees in beheer is, staan die eie ek nie eerste in die ry nie. Nee, saam met die Gees word ons ore en oë sensitief vir die behoeftes van ander. Maar dit bly nie daar nie, want die hande en voete kom in beweging en doen op die ou end iets aan die nood van ander. En dit is presies hoe die sappige vrugte van die Gees lyk. Mense raak anders as hulle aan die vrugte van die Gees smul.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk jou vrugte?
Sal die Gees sy sticker daarop plak?
Ervaar ander jou omgee?
Gebed
Here, met my hele hart wil ek graag die vrugte van die Gees dra. Mense moet kan ervaar dat ek regtig omgee, maar helaas, ek kry dit nie altyd reg nie. Daarom smeek ek nou dat U Gees my sal help om my oë weg te draai van myself en dat ek die ander mense om my sal raaksien sodat ek na hulle kan uitreik. Amen