Vrugte van die Gees is… Vrede
Baie mense het nie vrede nie, want hulle is nie tevrede nie. Hulle is nie tevrede met hoe hulle lyk of met wat hulle het nie. Hulle is nie tevrede met hulle huis, kar, werk en ook nie met hulle kinders of eggenoot nie. Die meeste dinge in hulle lewe bring onvrede en daarom is hulle die heeltyd op soek na meer. Sulke mense dink dat vrede te vinde is in dinge wat ons op die aarde kan kry. As ek nog net bietjie harder werk en net méér kan verdien, sal ek een of ander tyd tevrede wees. Dán sal ek ware vreugde raakleef.
En tog, al het jy al die dinge wat jou hart begeer, al is jy tevrede met alles wat jy het en hoe jy lyk en al het jy “nog meer” uiteindelik bereik, blyk dit dat ware vrede steeds ontwyk. Vra maar vir die ouens wat alles het. Hulle sal kan getuig dat niks van daai dinge ware vrede kan gee nie.
Ware vrede is nie temperamenteel nie. Ware vrede word nie deur jou omstandighede gesteel nie. Die ergste storm kan jou slaan, maar jou vrede sal nie gesteel word nie. Die dikte van die vrede is nie afhanklik van jou emosionele toestand of die plek waar jy jou op die oomblik bevind nie. Selfs al verloor jy jou werk, selfs al verloor jy jou besigheid, selfs al sterf ’n geliefde, selfs al duik jou gemoedstoestand in die hek, sal ware vreugde nie eens ’n wind sluk nie. Dit staan vas soos ’n paal bo water en die vlaggie wapper sterk in die wind.
Daar is mense wat altyd totale vrede uitstraal. Mense wat al aan die vrug van ware vrede geproe het en nou self die vrugte dra. Die mense ken 22… die vrede wat van God af kom, hulle ken en ervaar dit. Ja, ware vrede is nie hier op aarde te vind nie. Dit kom van Bo.
Ware vrede is moontlik wanneer daar vrede tussen mens en God bestaan. Wanneer jy weet dat jou saak met God reg is en wanneer daar nie meer vyandskap tussen jou en God is nie. Wanneer die gesoek na jou Verlosser verby is en jy in sy liefdevolle arms geval het, daal daar ’n vrede oor jou neer wat jy nog nooit vantevore ervaar het nie. Net daar hou die gejaag na “iets” en na “meer in die lewe” op. Die soektog stop terstond. Uiteindelik is jy werklik tevrede, omdat die ware vrede wat die mens se verstand te bowe gaan nou deur jou hele wese vloei.
Elke mens is geprogrammeer om na ware vrede te soek. Die probleem is dat die meeste dit op verkeerde plekke soek. Hoekom dink jy raak beroemdes deurmekaar met dwelms? Hulle het dan alles! Hulle het hope geld, hope vriende, hope huise en blink karre. En tog soek hulle na meer. Sonder dat hulle dit besef, is hulle in ’n stryd gewikkel na ware vrede omdat al die aardse dinge geen ware vrede kan gee nie.
Ware vrede kom uiteindelik wanneer ons terug in die kampie by ons Skepper is. As ons nie daar uitkom nie, sal ons nooit tevrede wees nie, sal ware vrede ons bly systap. Maar wanneer ons ware vrede ontdek het, kan die wêreld maar kom met sy curve balls. Dan kan die een swaar na die ander ons tref. Ja, ons kan mismoedig word, ons kan huil van die pyn terwyl ons ly, maar tog kan ons ware vrede ervaar, want ons saak is met God uitgesorteer.
Ek gebruik graag ’n voorbeeld uit my eie lewe. My derde boek wat die maand vrygestel is, Saamloop, is in Indië gedruk. Daar het ’n probleem tydens die drukproses ontstaan en met die aankoms van die eerste 5 boeke besef ek dat ons nie die boeke kan vrystel nie. My eerste reaksie was vrede…? Nee, inteendeel! Ek was dadelik tussen die vloer en die politoer. Ek was verdwaas, teleurgesteld, boos en wat nog meer. Ek het gebewe en wou huil, want sien, ek is ’n mens en al die voorgenoemde is menslike reaksies.
Toe die aanvanklike stof egter gaan lê en ek besef dat daar ’n klomp menslike foute ingesluip het, het ek ons Vader gevra om die storm stil te maak sodat ek weer kan rustig raak in Sy teenwoordigheid. Maar in die hele proses van emosionele wipplank ry het my vrede nooit by die deur uitgeloop nie. Want niks, maar niks kan die vrede wat daar tussen my en God bestaan in die wiele ry nie.
Ware vrede is ’n vrug van die Gees en niks en niemand kan dit van ons steel nie.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk jou vrugte?
Sal die Gees sy sticker daarop plak?
Sien ander mense die vrug van vrede in jou lewe?
Gebed
Dankie vir die stuk bemoediging, Vader. Dankie dat ek rustig kan wees met die wete dat die soeke na ware vrede by U ophou. Dankie dat U die soeke na ware vrede in ons geplaas het en dat ons nie sal ophou soek totdat ons dit by U gekry het nie. Help my om ware vrede uit te leef en ander ook daarheen te lei. Amen