Vrugte van die Gees is…Vreugde
Daar was tye in my lewe toe ek tussen die vloer en die politoer gelewe het. Tye toe dit nie met my goed gegaan het nie. Dit was in sulke tye wat ek gesmag het om net weer ’n stukkie vreugde te ervaar. Ware vreugde.
Dan het ek begin droom. As ek net ’n klein bietjie meer geld kon verdien, sal ek seker geluk vind. Gou het ek gesien dat geld nie ware vreugde bring nie. En as ek so terugkyk oor my lewe, sien ek dat ek op baie ander plekke ook gesoek het. Aansien, vriende, werk, familie en selfs by die kerk. Maar die vreugde wat daar te vinde was, was temperamenteel. Op en af soos ’n wipplank. As jy die volgende oggend wakker word en jou koffie ruik, weet jy die vreugde was té dun, té plastiek en net té min om ware vreugde te vervang.
Waar is ware vreugde dan te vind? Volgens Paulus is ware vreugde slegs die resultaat van die werk van die Gees in ons. Ons kan dus nie ware vreugde op ons eie kry nie. Slegs met die Heilige Gees as Vennoot, as Maat, as Helper kan ons by ware vreugde uitkom. Mense wat toelaat dat die Gees in hulle woel, 22… is vol vreugde.
Die pad na ware vreugde begin wanneer ons onsself raaksien vir wie ons is, waartoe ons in staat is en waarheen ons op pad is. Dit is ’n punt waar ons waarlik in sak en as gaan sit en besef dat die hel ons voorland is. Dit is ’n punt van totale verlorenheid en die vêrste verwyderd van enige vreugde.
Maar dankie tog dat die Heilige Gees ons keer op keer herinner aan dit wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Wanneer die Gees die verlossingsboodskap vir ons oopbreek en ons lewe op ’n manier weer aan ons teruggee en die eindbestemming van die hel na die hemel verander, ontplof daar vreugde in ’n mens. Dan word jy en jou kop dronk van vreugde. Dis sulke tye wanneer ’n mens van vreugde uit jou vel wil spring! Daar is nie ’n groter gebeurtenis in ons lewe as wanneer jy wakker skrik en die realiteit besef nie. God het ons so lief dat Hy ons ten spyte van onsself van die ewige vuur kom gryp en die ware lewe op ’n skinkbord aan ons gee.
Dit is ware vreugde. Dit is vreugde wat nie op en af soos ’n wipplank maak nie. Dit is nie vreugde wat varieer soos wat die omstandighede om ons verander nie. Nee, dié ware vreugde bly konstant al druk die beursie of die werk of die verhoudings of die land se nuus dat jou oë traan.
En dadelik hoor ek jou sê dat jy nie altyd so vol vreugde voel nie. Jy sê dat dit vir jou moeilik is om te smile as die lewe jou so druk. Ja, ek weet, want ek is ook so. Ek laat ook toe dat die omstandighede my vreugde steel. Ek rol ook saans rond as ek dink aan die week se dinge wat voorlê. Ek is ook soms bekommerd oor verhoudings en geldsake en wat ook nog en dan sukkel ek om vreugde te ervaar.
Dit het dalk tyd geword dat ons meer plek vir die Gees moet gee wanneer ons worrie oor die bestuur en hantering van die lewe. Die worries van gister is verby en eintlik leef ons nog. Was die worries dan regtig die moeite werd? Soms kan ons so lekker kortsigtig wees, nè!
Kom ons sê dit weer vir mekaar: Die mense wat deur die Gees bestuur word, se vrugte is pragtig. Dit is vrugte wat deur ander beny word. Een van die vrugte is vreugde. Kom ons maak ’n punt daarvan om die Heilige Gees te vra om ons te help om ons vreugde te tap uit die verlossing van Jesus Christus en ons visier daarop te hou. Kom ons plaas alles in perspektief en verstaan dat die ander dinge wat die wêreld voorhou as ware vreugde eintlik net plastiek is.
Kom ons gaan leef die lewe ten volle daar buite. Ten spyte van die omstandighede. Kom ons druk ons lewe in die rooi en weet dat Jesus ons weer en weer ’n kans gee en dat die eindbestemming van die hel na die hemel verander het. Mag ander na ons kyk en sê: 22… Hulle lewe is vol vreugde.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk jou vrugte?
Sal die Gees sy sticker daarop plak?
Sien mense ware vreugde in jou lewe raak?
Gebed
Vreugde, ware vreugde is eintlik al waaroor dit gaan, Here. Die res is geraas. En tog is dit nie altyd ’n kenmerk van my lewe nie. Ek besef dat ek op verkeerde plekke soek. Help my dat my fokus altyd op U sal wees. Amen